Jesaja 16 - Die Bybel 2020-vertaling

1Stuur ramlammers

van die regeerder van die land

uit Sela deur die woestyn

na die berg van die dogter

van Sion.

2Soos voëls wat vlug,

'n broeisel wat verjaag is,

is die vroue van Moab

by die driwwe van die Arnon.

3Kom met 'n plan, Sion,

neem 'n besluit!

Maak jou skaduwee soos die nag

in die middel van die dag.

Steek dié wat verdryf is, weg!

Dié wat vlug,

moet jy nie verraai nie.

4Laat die vlugtelinge van Moab

by jou vertoef.

Wees vir hulle 'n skuilplek

teen die verwoester.

Wanneer die verdrukker

nie meer daar is nie,

die verwoesting afgeloop het,

die vernielers uit die land

verdwyn het,

5 sal, deur troue liefde,

'n troon gevestig word.

Daarop sal iemand in getrouheid

in die tent van Dawid sit –

iemand wat regspreek,

wat streef na wat reg is,

en ervare is in geregtigheid.

6 Ons het gehoor van die trots

van Moab,

van die groot vermetelheid.

Sy hoogmoed, sy trots

en woedebuie, sy gespog,

is blote skyn.

7Daarom weeklaag Moab oor Moab,

hulle almal weeklaag.

Oor die saamgeperste rosyne

van Kir-Geres

kla julle, heeltemal verslae;

8want die terrasse van Gesbon

het verdroog,

ook die wingerde van Sibma.

Die grondeienaars van die nasies

het die stad se edeldruiwe platgetrap.

Dit het voorheen selfs

tot by Jaser gestrek,

die woestyn in gerank.

Die stad se ranke was welig,

dit het die see oorgesteek.

9 Daarom treur ek, soos Jaser treur,

oor die wingerde van Sibma.

Ek sal jou met my trane deurweek,

Hesbon, en ook Elale;

want oor jou somervrugte

en jou graanoes

het die vreugdekrete stil geword.

10Vreugde en gejuig is weggeneem

uit die vrugteboorde;

in die wingerde

word daar nie gejubel nie,

word vreugderoepe

nie aangehef nie.

Wat wyn in die parskuipe betref –

die druiwetrappers trap niks uit nie.

“Aan vreugdekrete

het Ek 'n einde gemaak.”

11Daarom, soos 'n lier

kla my ingewande oor Moab,

my binneste oor Kir-Geres.

12 Wanneer Moab

weer sy verskyning maak,

hom afsloof op die offerhoogtes,

wanneer hy by sy heiligdom

aankom om te bid,

sal hy niks uitrig nie.

13 Dit is die woord wat die Here vroeër teen Moab uitgespreek het.

14Maar nou sê die Here: “Binne drie jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal die luister van Moab iets minderwaardigs wees, ten spyte van sy groot menigte. Die oorblyfsel wat min, klein, sal wees, sal nie krag hê nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help