Habakuk 3 - Die Bybel 2020-vertaling

Gebed van Habakuk

1'n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot.

2 Here, toe ek van u roem

gehoor het,

is ek met ontsag vervul.

U dade, Here,

maak dit 'n werklikheid

in hierdie tye;

laat dit in hierdie tye bekend word.

Onthou om barmhartig te wees

te midde van ontsteltenis.

3 Toe God uit Teman kom,

die Heilige

van die Paranberge, •Sela

het sy luister die hemelruim bedek,

sy lof die aarde gevul.

4 Skitterend soos sonlig

was die ligstrale uit sy hand;

daarin het krag geskuil.

5 Voor Hom loop pessiektes,

op sy spore volg plae.

6 Hy het gaan staan,

en die aarde laat bewe;

Hy het net gekyk,

en die nasies laat opspring.

Die oeroue berge het verbrokkel,

die ewige heuwels het laag gebuk.

Die ewige wentelbane van die sterre

behoort immers aan Hom.

7 Ek het gesien die tente van Kusan

verkeer in nood,

die tentdoeke van die land Midian sidder.

8 Here, het u toorn

teen die riviere ontbrand?

Is u toorn teen die riviere,

of is u gramskap teen die see gerig,

dat U met u perde

op u strydwaens ry

vir verlossing?

9 U boog is heeltemal ontbloot,

“sewe knuppels!”

was die bevel; •Sela

vir strome kloof U die aarde oop.

10-11 Berge het U gesien,

hulle het ineengekrimp;

'n donderende wolkbreuk

het verbygetrek;

die •oerwater het sy stem laat hoor.

Hoog het die son sy hande gelig;

die maan het stilgestaan

in sy hoë woning,

vir die lig van u pyle

wat verbyvlieg,

vir die glans van u blitsende spies.

12 In verontwaardiging

stap U oor die aarde,

in toorn trap U nasies plat.

13 U trek op tot die redding

van u volk,

U kom tot die redding

van u gesalfde.

U verpletter koppe;

U ontbloot die binneste

van die goddelose

van die heup tot die nek. •Sela

14U splyt met sy knuppels

die koppe van sy magtiges

wanneer hulle aanstorm

om my te verstrooi,

wanneer dit hulle vreugde is

om die weerlose

in 'n skuilplek te verslind.

15 U het met u perde die see getrap,

daardie skuimende watermassa.

16 Toe ek dit hoor,

het my ingewande geril,

vir die geluid daarvan het my lippe

gebewe,

'n lamheid het in my gebeente

gekom;

ja, ek het daar gestaan en bewe,

want ek moes wag vir die dag

van benoudheid om aan te breek

vir die volk wat ons aanval.

17 Al sou vyebome nie bot nie,

daar geen opbrengs

aan die wingerdstokke wees nie,

die drag van die olyfbome teleurstel,

die landerye niks te ete lewer nie,

kleinvee uit die kraal verdwyn

en geen beeste in die stalle

oor wees nie;

18 nogtans sal ek jubel in die Here,

sal ek juig in die God wat my verlos.

19 Die Here, my Heer, is my krag,

Hy maak my voete soos wildsbokke,

op my hoë plekke laat Hy my loop.

Vir die •musiekleier. Met snarespel.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help