Esegiël 26 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesie teen Tirus

1 In die elfde jaar, op die eerste dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom:

2“Mensekind, omdat Tirus oor Jerusalem gesê het, ‘Aha! Die deure na die volke is oopgebreek, dit het na my kant oopgeswaai; noudat sy in puin lê, sal ek gevul word’ –

3daarom, so sê die Heer, die Here, ‘Dit is Ek teen jou, Tirus!

Ek sal baie nasies

teen jou laat opstaan,

soos die see sy golwe laat opstaan.

4 Hulle sal die stadsmure van Tirus verwoes

en haar torings afbreek.

Ek sal die grond van haar afskraap,

haar 'n kaal rotsplaat maak.

5'n Droogmaakplek vir sleepnette

sal jy word, midde-in die see;

want Ek het gepraat,’

is die uitspraak

van die Heer, die Here.

‘Tirus sal 'n buit wees

vir die nasies,

6en haar dogters wat in die veld is –

met die swaard sal hulle

doodgemaak word.

Hulle sal besef dat Ek die Here is.

7“Ja, so sê die Heer, die Here,

‘Kyk, Ek gaan Nebukadresar,

koning van Babilonië,

die koning van die konings,

uit die noorde na Tirus bring,

met perde, strydwaens en ruiters,

met 'n strydmag,

'n menigte manskappe.

8Jou dogters in die veld

sal hy met die swaard doodmaak,

hy sal beleëringswerke teen jou oprig,

beleëringswalle teen jou ophoop,

'n skilddak teen jou opstel.

9Die houe van sy stormramme

sal hy teen jou mure rig,

jou torings sal hy

met sy breekysters afbreek.

10Sy magdom perde sal jou

met hulle stofwolk bedek.

Van die geluid van die spanne perde,

die wiele en strydwaens

sal jou stadsmure bewe

wanneer hy by jou poorte ingaan,

soos met die inval in 'n stad

waarvan die mure deurbreek is.

11Met die hoewe van sy perde

sal hy al jou strate vertrap.

Jou mense sal hy met die swaard

doodmaak.

Jou magtige suile

sal op die grond val.

12Hulle sal jou rykdomme roof,

jou handelsware buitmaak.

Hulle sal jou mure afbreek,

jou spoghuise sloop.

Jou klippe, hout, en grond

sal hulle in die water gooi.

13“ ‘ Ek maak 'n einde

aan die lawaai van jou liedere;

die klank van jou liere

sal nie meer gehoor word nie.

14 Ek maak jou 'n kaal rotsplaat,

'n droogmaakplek vir sleepnette

sal jy wees.

Jy sal nie weer herbou word nie,

want Ek, die Here, het gepraat.’

Dit is die uitspraak

van die Heer, die Here.

15“So sê die Heer, die Here, vir Tirus,

‘ Sal, van die geluid van jou val,

by die gekreun van die gewondes,

met die groot slagting in jou,

die eilande nie bewe nie?

16 Al die leiers langs die see

sal van hulle trone afklim,

hulle mantels afhaal,

hulle veelkleurig geweefde klere uittrek.

Met 'n gesidder sal hulle beklee wees;

op die grond sal hulle gaan sit,

die hele tyd bewe,

en verslae wees oor jou.

17Hulle sal oor jou 'n klaaglied aanhef;

hulle sal vir jou sê:

“Hoe het jy verdwyn,

jy wat uit die seë bevolk is,

veelgeroemde stad

wat so magtig was op see.

Dit is sy en haar inwoners

wat 'n skrikbewind gevoer het,

ja, al haar inwoners.

18Nou sidder die eilande

op die dag van jou val;

die kuslande by die see

is angsbevange oor jou uitvaart.” ’

19“Ja, so sê die Heer, die Here,

‘Wanneer Ek jou 'n stad in puin maak,

soos stede wat nie bewoon word nie,

wanneer Ek oor jou die •oerwater

laat gaan,

jou oordek met massas water,

20 laat Ek jou afgaan saam met dié

wat in die put afdaal

na die mense van ouds,

laat Ek jou woon in die aarde

se diepste dele,

soos in oeroue ruïnes,

saam met dié wat in die put afdaal,

sodat jy nie bewoon word,

of 'n staanplek het in die land

van die lewendes nie.

21 'n Verskrikking maak ek jou;

jy sal nie meer daar wees nie.

Jy sal gesoek word,

maar nooit weer gevind word nie.’

Dit is die uitspraak

van die Heer, die Here.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help