Psalms 65 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. 'n Lied.

2 Aan U kom 'n lofsang toe,

o God wat in Sion is;

aan U moet geloftes betaal word.

3U wat gebede hoor –

na U moet alle mense kom.

4Al sou sondeskuld my oorweldig,

U bedek ons oortredings.

5Gelukkig is die mens vir wie U uitkies

en laat nader kom –

hy mag woon in u voorhowe.

Ons wil graag versadig word

met die goeie van u huis,

die heiligheid van u •tempel.

6U antwoord ons in geregtigheid

met ontsagwekkende dade,

o God wat ons verlos –

U, die vertroude

tot aan al die eindes

van die aarde en die verste seë,

7die Een wat die berge vestig

deur sy krag,

wat omgord is met mag,

8 wat die gedreun van die seë

stilmaak,

die gedreun van hulle golwe,

die rumoer van volke.

9Daarom het die bewoners

van die eindes van die aarde

ontsag vir u tekens.

U laat 'n gejubel opklink

waar die son opkom

en waar dit ondergaan.

10U het na die land omgesien,

dit deurdrenk,

dit besonder verryk.

God se leivoor is vol water.

U sorg vir hulle koring,

want so berei U die grond voor:

11U maak die vore nat,

die ploegbanke gelyk;

met reënbuie maak U die aarde sag,

U seën dit wat daar opkom.

12U kroon u goeie jaar;

u spore drup van vettigheid.

13Die weivelde van die woestyn drup,

die heuwels omgord hulle met 'n gejuig.

14Die weivelde klee hulle met kleinvee;

die valleie tooi hulle met graan;

hulle roep uit van vreugde,

ja, hulle sing.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help