Spreuke 13 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n Wyse seun aanvaar

die vermaning van 'n vader,

maar 'n spotter gee nie gehoor

aan 'n dreigement nie.

2 Van die vrug van iemand

se mond kan hy iets goeds eet,

maar verraderlike mense

het 'n begeerte na geweld.

3 Wie sy mond bewaak,

beskerm sy lewe;

wie sy lippe wyd oopmaak,

vir hom wag daar ondergang.

4 'n Luiaard – sy keel begeer,

en daar is niks,

maar die keel van vlytiges

geniet oorvloed.

5 In vals woorde het 'n regverdige

'n weersin,

maar 'n goddelose gedra hom stink

en tree skandelik op.

6 Geregtigheid bewaak

'n onberispelike leefwyse,

maar goddeloosheid werp

'n sondaar omver.

7 Daar is iemand wat hom

ryk voordoen,

maar heeltemal niks het nie,

en iemand wat hom arm voordoen,

maar baie besittings het.

8 Die losprys vir die lewe

van 'n man is sy rykdom,

maar 'n arme hoor nie

sulke dreigemente nie.

9 Die lig van regverdiges

straal vreugde uit,

maar die lamp van goddeloses

word uitgedoof.

10 Verwaandheid gee net rusie af,

maar by hulle wat raad aanvaar,

is daar wysheid.

11 Besittings wat moeiteloos

verkry word, sal verminder,

maar wie met die hand

bymekaarmaak, vermeerder dit.

12 Onvervulde hoop

maak die hart siek,

maar 'n vervulde wens

is 'n boom van lewe.

13 Wie 'n opdrag met minagting

bejeën –

van hom word 'n pand geneem,

maar wie 'n bevel eerbiedig,

hy sal vergoed word.

14 Die onderrig van 'n wyse

is 'n bron van lewe,

sodat die vangstrikke

van die dood vermy kan word.

15 Goeie begrip wen guns,

maar die pad van verraderlike

mense is onveranderlik.

16 Elke slim mens tree met oorleg op,

maar 'n dwaas sprei sy sotheid oop.

17 'n Goddelose boodskapper

stort self in die ongeluk,

maar 'n betroubare gesant

is 'n gerusstelling.

18 Armoede en skande lê voor

vir wie vermaning

in die wind slaan,

maar wie op teregwysing ag slaan,

word geëer.

19 'n Wens wat waar word,

is soet vir die siel,

maar dit is afstootlik vir dwase

om van die kwaad weg te bly.

20 Wie met wyses saamgaan,

sal wys word,

maar wie met dwase meng,

word benadeel.

21 Onheil agtervolg sondaars,

maar regverdiges

word deur die goeie beloon.

22 'n Goeie mens

laat sy kleinkinders erf,

maar 'n sondaar se eiendom

word vir 'n regverdige weggebêre.

23Oorvloedige kos

is op die braakland van armes,

maar dit word weggedra deur onreg.

24 Wie sy lat terughou,

haat sy seun,

maar wie hom liefhet,

hou hom in die oog vir straf.

25 'n Regverdige eet

tot sy honger gestil is,

maar die maag van goddeloses

bly leeg.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help