Jeremia 30 - Die Bybel 2020-vertaling

Herstel van Israel en Jerusalem

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2“So sê die Here, die God van Israel, ‘Skryf vir jou al die woorde wat Ek met jou gepraat het in 'n •boekrol.

3 Want kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘dat Ek die lot van my volk Israel en van Juda sal verander,’ sê die Here. ‘Ek sal hulle terugbring na die land wat Ek aan hulle voorouers gegee het, en hulle sal dit in besit neem.’ ”

4Dit is die woorde wat die Here oor Israel en Juda gesê het:

5“ So sê die Here,

‘Ons het 'n angskreet gehoor,

daar is vrees, en geen vrede nie!

6Vra maar en kyk

of 'n man geboorte kan gee?

Waarom sien ek dan elke man

met sy hande op sy heupe

soos 'n vrou wat geboorte gee?

Waarom het al die gesigte verbleek?

7 Helaas, want daardie dag

is groot en sonder gelyke!

Dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob,

maar hy sal daaruit verlos word.

8 Op daardie dag,’

is die uitspraak van die Here,

Heerser oor alle magte,

‘sal Ek sy juk van jou nek af breek

en jou stroppe uitmekaar ruk.

Vreemdes sal hom nie langer verkneg nie.

9 Hulle sal die Here, hulle God dien,

en Dawid, hulle koning wat Ek

vir hulle sal laat opstaan.

10 En jy, my dienskneg Jakob,

moenie bang wees nie!’

is die uitspraak van die Here.

‘Moet jou nie laat afskrik nie, Israel!

Want kyk, Ek gaan jou verlos

uit 'n ver plek,

jou nageslag uit die land

van hulle gevangenskap.

Jakob sal terugkeer;

hy sal stil en rustig wees,

en niemand sal hom opjaag nie.

11Ja, Ek is by jou,’

is die uitspraak van die Here,

‘om jou te verlos;

want Ek sal 'n einde maak

aan al die nasies

waarheen Ek jou verdryf het;

net aan jou sal Ek geen einde maak nie.

Ek sal jou matig straf,

maar jou beslis nie ongestraf laat nie.’

12“Ja, so sê die Here,

‘Ongeneeslik is jou verwonding,

jou wond word nie gesond nie.

13Daar is niemand wat jou regsaak

behartig nie.

Vir die wond is daar geen medisyne nie;

daar is geen herstel vir jou nie.

14Al jou minnaars het jou vergeet,

hulle vra nie eers na jou nie;

want met die wonde van 'n vyand

het Ek jou getref.

Dit was 'n genadelose bestraffing,

omdat jou sondeskuld so groot is,

jou sondes so talryk is.

15Waarom roep jy om hulp

oor jou verwonding?

Jou smart is ongeneeslik.

Omdat jou sondeskuld so groot is,

jou sondes so talryk is,

het Ek jou hierdie dinge aangedoen.

16 Daarom, almal wat jou verslind,

sal verslind word;

al jou teenstanders sal saam

in ballingskap gaan.

Hulle wat jou beroof,

is bestem om beroof te word;

en almal wat jou plunder,

gee Ek oor om geplunder te word.

17 Ja, Ek sal vir jou herstel beskik,

jou van jou wonde genees,’

is die uitspraak van die Here,

‘al noem hulle jou die een wat weggejaag is –

Sion, die een oor wie niemand

navraag doen nie.’

18“So sê die Here:

‘Kyk, Ek gaan die lot van Jakob

se tente verander,

oor sy wonings gaan Ek My ontferm.

Dorpe sal op hulle puinhope herbou word,

en vestings sal staan waar hulle hoort.

19 Uit hulle sal dankliedere opklink,

en die geluid van mense wat dans.

Ek sal hulle baie maak;

hulle sal nie minder word nie.

Ek sal eer aan hulle gee;

hulle sal nie gering wees nie.

20 Jakob se kinders sal weer

soos voorheen wees;

sy volksvergadering sal voor My

bestendig wees.

Ek sal van almal wat hom verdruk

rekenskap eis.

21 Sy maghebber sal uit eie geledere kom;

sy heerser sal uit sy midde voortkom.

Ek sal hom laat nader kom,

en hy sal tot My nader.

Ja, wie is die een wat dit sal waag

om tot My te nader?’

is die uitspraak van die Here.

22 ‘Julle sal vir My 'n volk wees,

en Ek sal vir julle 'n God wees.’ ”

23 Daar kom die Here se stormwind!

Woede het losgebreek – 'n werwelstorm!

Dit kolk bo die koppe van goddeloses.

24 Die brandende toorn van die Here

sal nie bedaar nie,

totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer,

dit tot stand gebring het.

Aan die einde van die dae

sal julle dit verstaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help