Prediker 4 - Die Bybel 2020-vertaling

1Ek het weer gekyk

na al die onderdrukking

wat gepleeg word onder die son.

Kyk, daar is trane van onderdruktes,

maar vir hulle is daar geen trooster nie.

Die mag is in hulle onderdrukkers

se hande –

en vir hulle is daar geen trooster nie.

2 Ek het die dooies

wat lankal gesterf het,

as gelukkig geprys

bo dié wat nog leef;

3en beter daaraan toe

as hulle almal is dié

wat nog nie daar was nie,

wat nog nie die slegte dade

gesien het wat onder die son

gepleeg word nie.

4Ek het gesien dat al die inspanning

en al die kundigheid

waarmee gewerk word,

naywer is van die een

teenoor die ander.

Ook dit is sinloos

en 'n gejaag na wind.

5Die dwaas vou sy hande

en vernietig homself.

6 'n Handpalm vol rus is beter

as 'n dubbele hand vol inspanning,

en 'n gejaag na wind.

7En weer het ek iets sinloos gesien

onder die son:

8Daar is iemand alleen,

sonder 'n tweede;

hy het nie eers 'n seun of broer nie,

maar daar is geen einde

aan al sy inspanning nie;

sy oë raak nie versadig

van rykdom nie.

Vir wie vermoei ek my

en ontsê ek myself die goeie?

Ook dit is sinloos en 'n slegte saak.

9 Twee is beter as een,

omdat daar vir hulle

'n ruim beloning is

vir hulle inspanning.

10Ja, as hulle val,

kan die een sy maat ophelp;

maar wee die een wat val

sonder dat daar 'n tweede is

om hom op te help!

11Ook as twee by mekaar lê,

kry hulle warm;

maar as daar net een is,

hoe kan hy warm word?

12As iemand die een wil oorweldig –

twee kan teen hom standhou.

'n Driedubbele koord

word nie maklik gebreek nie.

13 'n Arm, maar wyse jong man

is beter as 'n ou, maar dwase

koning wat nie meer weet

om op 'n waarskuwing

ag te slaan nie,

14al het die jong man

uit die tronk gekom

om koning te word,

selfs al is hy arm gebore

in die koning se ryk.

15Ek het gesien dat almal wat leef,

wat onder die son beweeg,

die tweede jong man

wat in sy plek gekom het, volg.

16 Daar was nie 'n einde

aan al die mense

wat elke vorige koning

ondersteun het nie;

tog sal die mense in die toekoms

nie oor die jong man

verheug wees nie.

Ja, ook dit is sinloos

en die najaag van wind.

Gedig oor praat en stilbly

17Trap versigtig wanneer jy

na die huis van God gaan.

Gaan nader om te luister

eerder as om 'n offer te bring

soos dwase,

want hulle weet nie dat hulle

verkeerd optree nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help