Job 12 - Die Bybel 2020-vertaling

Job se antwoord op Sofar se eerste betoog

1Job het hierop gereageer en gesê:

2“Ja, julle is inderdaad ware volksgenote;

en saam met julle sterf die wysheid!

3 Ook ek het verstand, net soos julle.

Ek staan nie vir julle terug nie;

en by wie is hierdie dinge nie bekend nie?

4 'n Voorwerp van spot vir sy medemens,

dit het ek geword.

‘Toe hy voortdurend na God geroep het,

het Hy hom geantwoord!’

Dit is die gespot van 'n regverdige,

iemand wat onberispelik optree.

5‘Vir 'n ramp is veragting gepas,’

is die mening van die selfversekerde,

‘'n stamp is gepas vir hulle

wie se voete swik.’

6 Die tente van verwoesters staan rustig;

en veiligheid heers

vir hulle wat God uittart,

vir hom in wie se hand

God dit laat beland.

7“Maar gaan vra gerus die diere –

hulle sal jou leer,

en die voëls van die hemel –

hulle sal jou inlig.

8Of gaan kla by die aarde,

wat jou sal leer;

die visse van die see sal jou vertel.

9Wie onder hulle almal weet nie

dat die hand van die Here

dit gedoen het nie?

10 Dit is Hy in wie se hand

die lewe is van alles wat leef,

ook die asem van elke mens

se liggaam.

11 Toets die oor nie woorde

soos die tong kos proe nie?

12 Is daar by grysaards wysheid,

en verseker 'n lang lewe insig?

13 By God is wysheid en krag;

aan Hom behoort raad en insig.

14 Kyk, as Hy afbreek,

word dit nie herbou nie;

sluit Hy iemand toe,

maak niemand oop nie.

15 Kyk, as Hy water terughou,

droog dit op;

laat Hy die water vry,

verwoes dit die land.

16By Hom is krag en sukses;

aan Hom behoort

wie dwaal en laat dwaal –

17 Hy wat raadgewers kaalvoet laat loop

en van regters gekke maak.

18Die boeie waarmee konings bind,

maak Hy los,

en bind 'n lendedoek

om hulle heupe;

19 Hy wat priesters kaalvoet laat loop

en gevestigde families tot 'n val bring;

20wat betroubare raadgewers

se spraak wegneem

en oudstes van hulle

oordeelsvermoë ontneem;

21 wat veragting uitstort

oor vooraanstaandes,

en die gordel van sterkes losmaak;

22 Hy wat diep geheime

uit die donker blootlê,

dit wat pikdonker is,

na die lig bring;

23 wat nasies aansien gee

en hulle tot niet maak,

wat nasies laat uitbrei

en hulle wegvoer;

24 wat die leiers van volke van die aarde

se verstand wegneem,

en hulle laat ronddwaal

in 'n onherbergsame gebied sonder paaie.

25 Hulle tas rond in die donker sonder lig;

en Hy laat hulle rondsteier soos dronkes.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help