Psalms 33 - Die Bybel 2020-vertaling

1Regverdiges, jubel oor die Here!

'n Loflied pas by opregtes.

2 Dank die Here met begeleiding

van liere;

besing Hom met begeleiding

van tiensnarige harpe.

3Sing vir Hom 'n nuwe lied;

speel mooi op snaarinstrumente

met uitroepe van vreugde.

4Want die woord van die Here is reg,

en al sy werk is betroubaar.

5Hy is lief vir reg en •geregtigheid;

die troue liefde van die Here

vul die aarde.

6Deur die woord van die Here

is die hemele gemaak

en deur die asem van sy mond

die hemel se hele leër.

7Hy hou die water van die see

soos in 'n dam bymekaar;

Hy gaar die •oerwaters op

in voorraadkamers.

8Die hele aarde moet

vir die Here ontsag hê,

Hom moet al die bewoners

van die wêreld vrees;

9 want Hy het gepraat,

en dit was daar,

Hy het beveel, en toe staan dit daar.

10Die Here verydel

die raadsplanne van nasies,

Hy dwarsboom die planne van volke.

11Die raadsplan van die Here

bestaan vir ewig,

die planne wat Hy bedink,

van geslag tot geslag.

12Gelukkig is die nasie

wie se God die Here is,

die volk wat Hy as sy eiendom

gekies het.

13 Uit die hemel kyk die Here,

Hy sien alle mense.

14Uit die plek waar Hy woon

beskou Hy al die bewoners

van die aarde,

15Hy wat elkeen van hulle

se denke vorm,

insig het in alles wat hulle doen.

16Geen koning word

deur 'n groot leër verlos nie;

'n krygsheld red homself nie

deur groot krag nie.

17'n Perd bied vals hoop

vir oorwinning,

deur sy groot krag

kan hy nie bevry nie.

18Kyk, die Here hou sy oog

op dié wat vir Hom ontsag het,

op dié wat hulle hoop vestig

op sy troue liefde,

19om hulle lewens

van die dood te red

en hulle aan die lewe te hou

tydens hongersnood.

20Met ons hele wese

wag ons op die Here;

Hy is ons hulp en ons skild.

21Want oor Hom is ons harte verheug,

ja, op sy •heilige Naam vertrou ons.

22Mag u troue liefde

oor ons wees, Here,

terwyl ons op U wag!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help