Psalms 55 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel. Van Dawid.

2 O God, luister na my gebed,

verberg U nie vir my smeekbede nie.

3Luister tog aandagtig na my

en antwoord my.

Klaend dwaal ek rond;

ek is verward

4oor die geraas van vyande,

oor die getier van goddeloses,

want hulle laat onreg op my neerstort,

en in toorn is hulle vyandig teenoor my.

5My hart krimp ineen in my binneste,

doodsangs het my oorval.

6Vrees en bewing oorweldig my,

'n rilling trek deur my liggaam.

7Ek het gedink,

het ek maar vlerke gehad soos 'n duif!

Ek sou wegvlieg en 'n tuiste vind;

8ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug;

ek sou in die woestyn oornag. •Sela

9Ek sou haastig vir my 'n skuilplek soek,

weg van die rukwind,

van die hewige storm.

10My Heer, verwar,

verdeel hulle tonge,

want in die stad sien ek net

geweld en stryd.

11Dag en nag doen dit die rondte

op die stadsmure,

en binne die stad

is daar onreg en geweld.

12Vernietiging is binne-in die stad,

verdrukking en bedrog wyk nie

van die stadsplein nie.

13Dit is immers nie 'n vyand

wat my uittart nie –

ek sou dit nog kon verduur;

dit is nie my hater wat selfvoldaan

is teenoor my nie;

ek sou my vir hom kon versteek.

14Maar dat dit jy is, 'n mens soos ek,

my boesemvriend en vertroueling –

15ons wat vertroulike gesprekke

saam geniet het

terwyl ons in die huis van God loop

in die gedrang van mense!

16Mag die dood hulle

onverhoeds betrap,

mag hulle lewendig afdaal

na die •doderyk;

want boosheid is by hulle tuis,

dit is in hulle midde.

17Ek, ek roep tot God,

en die Here sal my verlos.

18In die aand, in die oggend

en in die middag

het ek gekla en gesteun;

maar Hy het my stem gehoor.

19Met vrede koop Hy my lewe vry

van 'n geveg wat teen my gerig is,

al is hulle in hulle hordes teen my.

20God hoor en sal hulle verneder

– Hy regeer immers van die voortyd af, – Sela

hulle by wie daar geen

verandering is nie,

en wat nie ontsag het vir God nie.

21Teen sy vriende het hy

sy hand uitgesteek;

hy het sy verbond geskend.

22Sy mond is gladder as botter,

maar sy hart is die ene oorlog.

Sy woorde is strelender as olie,

maar dit is ontblote swaarde.

23 Werp jou las op die Here;

Hy sal jou versorg,

Hy sal nooit toelaat

dat die regverdige wankel nie.

24U, o God, laat hulle afdaal

in die put van die graf.

Die manne van bloed en bedrog

haal nie eers die helfte

van hulle jare nie.

Maar ek, ek vertrou op U.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help