Psalms 19 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.

2 Die hemelruim verkondig

die eer van God

en die hemelkoepel maak die werk

van sy hande bekend.

3Dag ná dag bring dit

'n boodskap voort

en nag ná nag deel dit

kennis mee.

4Alhoewel daar geen spraak

en geen woorde is nie

en hulle stem nie hoorbaar is nie,

5gaan hulle boodskap uit

oor die hele aarde

en hulle woorde

tot aan die einde van die wêreld.

Vir die son het Hy 'n tent opgeslaan

in die hemel.

6Die son is soos 'n bruidegom

wat by sy slaapkamer uitgaan –

vol vreugde, soos 'n held

wat op die pad hardloop.

7Aan die een kant van die hemel

gaan hy op

en aan die ander kant

gaan hy onder,

en niks ontkom aan sy hitte nie.

8Die wet van die Here is volmaak,

dit gee nuwe lewenskrag;

die bepalings van die Here

is betroubaar,

dit gee wysheid aan die onkundiges.

9Die opdragte van die Here is reg,

dit maak die hart bly;

die gebod van die Here is suiwer,

dit verhelder die oë.

10Ontsag vir die Here is rein,

dit hou vir altyd stand;

die beslissings van die Here is waar,

dit is almal regverdig.

11Dit is begeerliker as goud,

begeerliker as 'n oormaat fyngoud;

dit is soeter as heuning,

as 'n heuningkoek wat drup.

12Boonop, u dienskneg

word daardeur gewaarsku;

wanneer 'n mens daarby hou,

is die beloning groot.

13Wie het insig in sy onbewuste

dwalings?

Spreek my vry van verborge sondes!

14Weerhou u dienskneg

ook van vermetelheid.

Laat dit nie oor my heers nie;

dan sal ek onskuldig wees

en vry van ernstige oortredings.

15Laat die woorde van my mond

en die bepeinsing van my hart

vir U aanvaarbaar wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help