Romeine 14 - Die Bybel 2020-vertaling

Aanvaarding van mekaar

1Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer.

2 Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente.

3 Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar.

4Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou.

5Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir 'n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees.

6Die een wat 'n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor.

7Niemand van ons leef tog

vir homself nie,

en niemand sterf

vir homself nie.

8 As ons leef,

leef ons immers vir die Here;

en as ons sterf,

sterf ons vir die Here.

Of ons dan lewe of sterwe,

ons behoort aan die Here.

9Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.

10Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn.

11Want daar staan geskryf:

“So seker as wat Ek leef,

sê die Here,

voor My sal elke knie buig

en elke tong sal My as God bely. ”

12 Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.

Optrede sonder aanstoot

13Daarom, kom ons veroordeel mekaar nie meer nie. Maak dit eerder julle voorneme om nie vir julle broer 'n rede tot aanstoot of struikeling te verskaf nie.

14 Ek weet – ja, ek is in die Here Jesus daarvan oortuig – dat niks vanself •onrein is nie. As iemand iets egter as onrein beskou, dan is dit vir hom onrein.

15 As jy jou broer aanstoot gee deur wat jy eet, handel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie •Christus gesterf het, ten gronde laat gaan nie.

16 Moenie toelaat dat die goeie wat daar by julle is, 'n slegte naam kry nie.

17Die •koninkryk van God is tog nie 'n saak van kos en drank nie, maar van •geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.

18Wie Christus op hierdie manier dien, is aanneemlik vir God en aanvaarbaar by die mense.

19Kom ons streef dan na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder.

20Moenie ter wille van kos die werk van God tot niet maak nie. Alles is rein, maar dit is verkeerd om aanstoot te gee deur wat jy eet.

21Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink, of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie.

22 Hou vas aan die oortuiging wat jy by jouself voor God het. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel oor wat hy as toelaatbaar beskou nie.

23 Hy wat egter twyfel wanneer hy eet, staan al klaar veroordeel, omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help