Psalms 45 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van die Koragiete. 'n Maskiel. 'n Liefdeslied.

2 My hart is ontroer deur mooi woorde,

ek dra my verse voor aan 'n koning.

My tong is die pen

van 'n vaardige skrywer.

3U is mooier as ander mense,

guns vloei oor u lippe,

daarom seën God u vir altyd.

4Gord u swaard aan die heup, o held –

u majesteit en u luister!

5Seëvier in u glansrykheid!

Trek op ter wille van waarheid,

nederigheid en •geregtigheid!

Laat u regterhand vir u

ontsagwekkende dinge leer.

6U pyle is skerp in die hart

van die koning se vyande;

volke val onder u.

7 U troon, o goddelike wese,

is vir altyd en altyd,

die septer van u heerskappy

is 'n regverdige septer.

8U het •geregtigheid lief

en u haat goddeloosheid.

Daarom, o goddelike wese,

het u God u met olie

van vreugde gesalf –

meer as u metgeselle.

9Na mirre, adelhout

en wildekaneel

ruik al u klere;

uit paleise van ivoor

maak snaarinstrumente u bly.

10Die dogters van konings

is versier met u juwele;

aan u •regterkant staan die koningin,

getooi in goud uit Ofir.

11Luister, dogter,

kyk en gee aandag!

Vergeet jou volk en die huis

van jou vader.

12Dan sal die koning jou skoonheid

onweerstaanbaar vind;

want hy is jou heer

en jy moet laag voor hom buig.

13Dogter van Tirus, met geskenke

sal die rykes van die volk

jou guns soek.

14In volle glorie wag die dogter

van 'n koning binne,

in haar uitrusting van goudbrokaat.

15In veelkleurig geweefde klere

word sy na die koning gebring;

jongmeisies, haar vriendinne,

is haar gevolg,

hulle word vir u ingebring.

16Met vreugderoepe en gejuig

word hulle binnegelei,

gaan hulle die koninklike troonsaal binne.

17U seuns sal die plekke

van u vaders inneem,

u sal hulle as •hoë amptenare

aanstel in die hele land.

18Ek wil sorg dat u naam bekend bly

deur alle geslagte heen,

daarom sal mense u prys

vir altyd en altyd.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help