Spreuke 6 - Die Bybel 2020-vertaling

Waarskuwing teen borg staan en luiheid

1 My seun, as jy vir jou medemens

borg gestaan het,

vir 'n vreemde jou hand gegee het,

2as jy in 'n strik getrap het deur

die woorde van jou mond,

vasgevang is deur

die woorde van jou mond,

3doen dan dit, my seun,

om jouself te bevry,

want jy het in die palm van jou

medemens se hand beland:

Gaan – verneder jouself!

Loop reguit op jou medemens af!

4Laat jou oë nie toe om te slaap,

en jou ooglede

om in te sluimer nie.

5Ruk jouself los soos 'n gasel

uit die hand van 'n jagter,

soos 'n voël

uit die hand van 'n voëlvanger.

6 Gaan na die mier, luiaard,

kyk na sy weë, en word wys.

7Hy wat nie 'n •aanvoerder,

opsiener of heerser het nie,

8berei in die somer sy kos voor,

versamel in die oestyd sy voedsel.

9Hoe lank, luiaard,

gaan jy nog bly lê?

Wanneer gaan jy opstaan

uit jou slaap?

10'n Bietjie slaap,

'n bietjie insluimer,

'n bietjie hande vou om te rus;

11dan kom, soos 'n rondloper,

jou armoede daar aan,

jou gebrek

soos 'n skaamtelose man.

12 'n Deugniet van 'n mens,

'n boosdoener,

is hy wat met 'n mond

vol valsheid rondloop,

13wat met sy oë knik,

tekens gee met sy voete,

beduie met sy vingers,

14met 'n verdorwe hart

die hele tyd kwaad stig

en tweedrag saai.

15Daarom, onverwags kom

sy teenspoed –

plotseling word hy verpletter,

sonder herstel.

16 Daar is ses dinge waarin

die Here 'n weersin het,

sewe is vir Hom afstootlik:

17hovaardige oë,

'n bedrieglike tong,

hande wat onskuldige bloed vergiet,

18'n hart wat bose planne smee,

voete wat gou is om na die kwaad

te hardloop,

19'n vals getuie wat leuens uitryg,

en iemand wat tweedrag saai

tussen broers.

20 My seun, hou by die gebod

van jou vader,

en moenie die onderrig

van jou moeder verontagsaam nie.

21 Bind dit voortdurend aan jou hart,

bind dit om jou nek.

22 Wanneer jy rondgaan,

sal dit jou lei;

wanneer jy slaap,

sal dit oor jou wag hou;

wanneer jy wakker word,

sal dít jou besig hou.

23 Want 'n gebod is 'n lamp,

en onderrig is 'n lig.

Die pad na die lewe

is teregwysing deur vermaning,

24 om jou te beskerm

teen 'n slegte vrou,

teen die gladde tong

van 'n vreemde vrou.

25Moenie haar skoonheid

in jou hart begeer nie,

en moenie toelaat dat sy jou vang

met haar wimpers nie.

26Ja, die prys vir 'n prostituut

is soveel as die prys

van 'n ronde brood,

maar iemand anders se vrou –

sy maak jag op 'n kosbare lewe.

27 Kan 'n man vuur

in die vou van sy kleed dra,

maar sy klere raak nie

aan die brand nie?

28As 'n man op gloeiende kole loop,

sal sy voete dan nie verskroei nie?

29So gaan dit met hom

wat by die vrou

van sy medemens ingaan.

Niemand wat haar aanraak,

sal ongestraf bly nie.

30 Verag mense nie 'n dief

as hy steel nie,

al is dit om sy eetlus te bevredig

wanneer hy honger is?

31 En word hy uitgevang,

moet hy dit sewevoudig vergoed;

al die besittings in sy huis

moet hy dan oorhandig.

32Hy wat owerspel pleeg met 'n vrou,

is sonder verstand;

wie sy eie lewe wil verwoes,

hy doen so iets.

33 Slae en skande

sal hy op die lyf loop,

en sy bespotting

sal nie uitgewis word nie.

34 Want jaloesie

wek 'n man se woede,

en hy sal genadeloos wees

op die dag van wraak.

35Hy sal nie geneë wees

tot enige omkoopgeld nie,

ook nie inwillig wanneer

die afkoopsom verhoog word nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help