Amos 4 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Luister na hierdie woord,

koeie van Basan

op die berg Samaria,

julle wat die armes verdruk

en die behoeftiges mishandel,

wat vir julle mans sê:

“Bring, sodat ons kan drink!”

2 My Heer, die Here, het gesweer

by sy heiligheid:

“Kyk, daar kom dae oor julle

wanneer julle aan vishoeke

weggedra word,

en dié van julle wat oorbly,

aan vishake.

3 Deur die bresse in die stadsmuur

sal julle een ná die ander

uitgebring word

en weggegooi word na Harmon,”

is die uitspraak van die Here.

4“ Kom na Bet-El en oortree,

na Gilgal en oortree nog meer.

Bring julle offers soggens,

en elke derde dag julle tiendes.

5 Offer 'n •dankoffer van dit

wat met suurdeeg gebak is.

Kondig julle vrywillige offers aan,

maak dit bekend;

want so hou julle daarvan, Israeliete.”

Dit is die uitspraak van my Heer,

die Here.

6 “Selfs toe Ek julle met leë monde

gelaat het in al julle stede,

met broodgebrek in al julle

woonplekke,

het julle nie na My teruggekeer nie,”

is die uitspraak van die Here.

7“ Selfs toe Ek die reën van julle

weggehou het,

reeds drie maande voor die oestyd,

en Ek oor een dorp laat reën het

en oor 'n ander dorp

nie laat reën het nie,

toe een stuk grond reën gekry het,

en die ander stuk grond

waarop Ek nie laat reën het nie,

verdroog het;

8toe twee, drie dorpe na een dorp

geslinger het om water te drink,

maar hulle dors nie kon les nie;

het julle nie na My teruggekeer nie,”

is die uitspraak van die Here.

9 “Ek het julle met skroeisiekte

en witroes getref.

Baie van julle tuine en wingerde,

julle vyebome en olyfbome,

het die ruspes kaal gevreet,

maar julle het nie na My

teruggekeer nie,”

is die uitspraak van die Here.

10 “Ek het pessiektes onder julle

losgelaat soos in Egipte;

Ek het julle jong manne

met die swaard omgebring,

saam met julle buitgemaakte perde.

Ek het die stank van julle leërmag

in julle neusgate laat opslaan,

maar julle het nie na My teruggekeer nie,”

is die uitspraak van die Here.

11 “Ek het by julle verwoesting aangerig

soos God se verwoesting

van Sodom en Gomorra.

Julle het geword soos 'n stuk hout

wat uit vlamme gepluk is;

maar julle het nie na My

teruggekeer nie,”

is die uitspraak van die Here.

12 “Daarom gaan Ek die volgende

aan jou doen, Israel;

en omdat Ek dit aan jou gaan doen –

wees gereed om jou God te ontmoet, Israel!”

13 Ja, kyk, Hy wat die berge vorm

en die wind skep,

wat aan 'n mens sy beplanning

bekend maak,

wat die dagbreek duisternis maak,

wat trap op die hoogtes van die aarde,

die Here, die God wat Heerser is

oor alle magte, is sy Naam!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help