Psalms 90 - Die Bybel 2020-vertaling

BOEK VIER(Ps 90 – 106)

1'n Gebed. Van Moses, die man van God.

My Heer, U was vir ons 'n woning

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is

en U die aarde en die bewoonbare

wêreld voortgebring het,

ja, van altyd af en vir ewig is U God.

3U laat sterflinge terugkeer tot stof;

U sê net:

“Keer terug, mensekinders!”

4Want duisend jaar is in u oë

soos die dag van gister

wanneer dit verbygaan,

– 'n wagbeurt in die nag.

5U vee hulle weg in die slaap.

In die oggend is hulle soos gras

wat opskiet,

6wat in die oggend bloei en uitspruit,

en teen die aand verlep en verdroog.

7Ja, ons het vergaan onder u toorn,

deur u woede word ons verskrik.

8U het ons sondeskuld voor U geplaas,

ons geheime sondes in die lig

van u teenwoordigheid.

9Want al ons dae gaan verby

onder u gramskap,

ons voltooi ons jare soos 'n sug.

10Die dae van ons lewensjare –

dit is maar sewentig jaar,

en as die kragte daar is, tagtig jaar.

En die beste daarvan

is vol moeite en rampe;

ja, dit gaan gou verby,

en ons vlieg weg.

11Wie ken die krag van u toorn?

U gramskap is net so groot

soos die ontsag vir U.

12Om ons lewensdae na waarde

te skat – dit moet U ons leer,

sodat ons 'n hart vol wysheid

kan verwerf.

13Keer terug, Here! Hoe lank nog?

Ontferm U oor u diensknegte.

14Versadig ons in die oggend

met u troue liefde,

sodat ons al die dae van ons

lewe kan juig en bly wees.

15Maak ons bly vir net so lank

as wat U ons verdruk het,

as die jare waarin ons

teenspoed beleef het.

16Mag u werk vir u diensknegte

duidelik word,

en u glansryke dade vir hulle kinders.

17Mag die goedheid van my Heer,

ons God, oor ons wees.

En ons handewerk,

hou dit vir ons in stand,

ja, ons handewerk, hou dit in stand.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help