Psalms 75 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie.” 'n Psalm. Van Asaf. 'n Lied.

2 Ons prys U, o God, ons prys U;

u Naam is naby.

Mense vertel van u wonderwerke.

3God sê:

“Wanneer die tyd aanbreek

wat Ek bepaal het,

sal Ek self met billikheid oordeel.

4Die aarde en al sy bewoners

kan wankel –

Ek self het sy pilare gevestig.” •Sela

5Vir verwaande mense sê ek:

“Moenie verwaand wees nie.”

Vir die goddeloses:

“Moenie horings oplig nie.

6Moenie julle horings

teen die hemel lig nie;

moenie verwaand,

met 'n stywe nek, praat nie.

7Want verheffing kom nie

van waar die son opkom

of van waar dit ondergaan nie,

en ook nie van die woestyn af nie.

8Nee, God is regter:

Die een verneder Hy,

die ander verhef Hy.”

9 Ja, daar is 'n beker in die hand

van die Here met wyn

wat gegis het en vol kruie is.

Hy skink daaruit.

Al die goddeloses van die aarde

sal dit moet drink,

dit tot die droesem moet ledig.

10En ek, ek sal dit altyd verkondig,

ek sal die God van Jakob besing, wat sê:

11“Al die horings van goddeloses

sal Ek afbreek,

maar die horings van regverdiges

sal opgelig word.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help