Spreuke 25 - Die Bybel 2020-vertaling

Meer spreuke van Salomo

1 Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer.

2 Dit is tot die eer van God

om 'n saak te verberg;

en dit is tot die eer van konings

om 'n saak te deurvors.

3Soos die hoogte van die hemel

en die diepte van die aarde,

is die hart van konings

ondeurgrondelik.

4 Verwyder die metaalskuim

uit silwer,

dan kom daar reeds 'n kruik uit

vir die silwersmid.

5Verwyder 'n goddelose

voor die koning,

dan is sy troon reeds

in geregtigheid gevestig.

6 Moenie grootpraat voor die koning,

en moenie gaan staan

op die plek van grotes nie.

7Want dit is beter

dat vir jou gesê word,

“Kom op hierheen!”

as dat jy verneder word

voor 'n vooraanstaande.

Wat jou oë gesien het,

8 moet jy nie haastig

voor die gereg bring nie;

wat sal jy uiteindelik doen

as jou medemens jou verneder?

9Voer jou regstryd

teen jou medemens,

maar iemand anders se geheim

moet jy nie openbaar nie;

10anders sal hy wat dit hoor,

jou in die skande steek,

en die skinderstories oor jou

nie ophou nie.

11 Goue appels in silwermonterings,

so is 'n woord uitgespreek

op die gepaste tyd.

12'n Goue ring en 'n sieraad

van fyngoud,

so is 'n wyse teregwyser

vir die oor wat luister.

13 Soos die afkoeling deur sneeu

op 'n oesdag

is 'n betroubare boodskapper

vir die een wat hom gestuur het;

hy verkwik die siel van sy heer.

14Stapelwolke en wind

sonder enige reën,

so is 'n man wat spog oor 'n geskenk

waaroor hy lieg.

15 Met geduld word 'n •aanvoerder

oorreed,

en 'n sagte tong breek gebeentes.

16 As jy heuning vind,

eet net tot jy genoeg het,

anders kry jy te veel daarvan in

en bring dit op.

17Sit jou voet selde

in jou medemens se huis,

anders kry hy te veel van jou

en ontwikkel 'n weersin in jou.

18 'n Hamer en 'n swaard

en 'n skerp pyl,

so is iemand wat as 'n vals getuie

teen sy medemens getuig.

19'n Tand wat breek en 'n voet

wat swik,

so is vertroue op 'n verraderlike

mens in 'n tyd van nood.

20Soos hy wat op 'n koue dag

klere uittrek,

of asyn op soda gooi,

so is iemand wat liedere sing

vir 'n treurige hart.

21 As jou vyand honger is,

gee hom brood om te eet,

en as hy dors is,

gee hom water om te drink;

22want jy stapel vurige kole

op sy kop,

en die Here sal jou beloon.

23 Die noordewind bring reën,

en 'n tong wat skinder,

verontwaardigde gesigte.

24 Om op die hoek van 'n dak

te woon,

is beter as om 'n huis te deel

met 'n bakleierige vrou.

25 Koel water in 'n dorstige keel,

so is goeie nuus uit 'n ver land.

26'n Modderige fontein,

'n besoedelde bron,

so is 'n regverdige

wat swig voor 'n goddelose.

27 Om te veel heuning te eet,

is nie goed nie,

en die soeke na eie eer is oneervol.

28 'n Stad wat deurbreek is,

sonder 'n stadsmuur,

so is iemand sonder selfbeheersing.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help