Spreuke 18 - Die Bybel 2020-vertaling

1Wie hom afsonder,

soek sy eie begeerte;

teen alle gesonde oordeel

ontketen hy 'n stryery.

2 'n Dwaas het geen sin

in verstandigheid nie,

maar net sin daarin

om sy hart te ontbloot.

3Wanneer 'n goddelose opdaag,

daag veragting ook op,

en saam met skande, ook bespotting.

4 Diep water is die woorde

uit 'n man se mond;

'n bruisende stroom is 'n bron

van wysheid.

5 Om vir 'n dwaas partydig te wees,

is nie goed nie;

dit is om 'n regverdige in die reg

te dwarsboom.

6 Die lippe van 'n dwaas

kom met 'n getwis,

en sy mond roep om slae.

7Die mond van die dwaas

is sy ondergang,

en sy lippe 'n valstrik vir sy lewe.

8 Die woorde van 'n kwaadstoker

is soos lekkernye –

dit gaan af na die binneste

van die liggaam.

9 Ook hy wat sloer in sy dagtaak

is die broer van 'n opperste

verwoester.

10 'n Sterk toring is die Naam

van die Here;

die regverdige hardloop dit binne,

en is onbereikbaar.

11 Die besittings van 'n ryke

is sy sterk stad;

soos 'n ontoeganklike stadsmuur

is dit in sy verbeelding.

12 Voor ineenstorting

is 'n mens se hart hoogmoedig,

maar nederigheid gaan eer vooraf.

13 Wie antwoord voordat hy luister –

sotheid is sy deel, en ook vernedering.

14 Die gees van 'n mens

dra hom deur siekte,

maar 'n neerslagtige gees –

wie kan dit opbeur?

15 Die hart van 'n verstandige

verkry kennis,

en die oor van wyses soek na kennis.

16 Die geskenk van 'n mens

skep vir hom ruimte;

na die teenwoordigheid van grotes

lei dit hom.

17 Die een wat eerste sy saak stel,

het skynbaar gelyk,

maar sy medemens kom

en ondervra hom.

18 Die lot bring 'n einde aan rusie,

en hou sterkes uitmekaar.

19 'n Broer teen wie oortree is,

is minder toeganklik

as 'n sterk vestingstad,

en rusie is soos die sluitbalk

van 'n vesting.

20 Van die vrug van 'n mens

se mond word sy maag gevul;

die opbrengs van sy lippe

versadig hom.

21Dood en lewe is in die mag

van die tong,

en hulle wat lief is om die tong

te gebruik,

sal die vrug daarvan eet.

22 Wie 'n vrou gevind het,

het die goeie gevind,

en geniet die goedkeuring

van die Here.

23 'n Arme praat pleitend,

maar 'n ryke antwoord hardvogtig.

24 'n Man met baie vriende

word geruïneer,

maar daar is 'n geliefde vriend

wat nader is as 'n broer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help