Psalms 80 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm.

2 Herder van Israel, luister tog!

U wat Josef soos kleinvee lei,

U wat oor die gerubs troon –

laat skyn tog u lig

3voor Efraim,

Benjamin en Manasse!

Laat u mag ontwaak

en kom tot ons redding.

4O God, herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

5 Here, God, Heerser oor alle magte,

hoe lank gaan u woede nog smeul

teen die gebed van u volk?

6U het hulle brood van trane laat eet;

U het hulle trane in oormaat laat drink.

7U het ons 'n bron van stryd

gemaak vir ons bure,

ons vyande dryf met ons die spot.

8O God, Heerser oor alle magte,

herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

9U het in Egipte 'n wingerdstok

uitgetrek;

U het nasies verdryf en hom geplant.

10U het voor hom skoongemaak;

hy het wortel geskiet

en die land vol gerank.

11Berge is deur sy skadu oordek,

die magtige seders deur sy takke.

12Hy het sy ranke uitgestoot

tot by die see,

en sy lote tot by die Rivier.

13Waarom het u sy tuinmuur afgebreek,

sodat almal wat daar

verbygaan, sy vrugte pluk?

14Wildevarke uit die bos vreet hom kaal;

bosvarke uit die veld vreet hom op.

15O God, Heerser oor alle magte,

kom tog terug!

Kyk uit die hemel en sien dit raak!

Versorg hierdie wingerdstok,

16die steggie wat u regterhand

geplant het,

die spruit wat U vir Uself

grootgemaak het.

17Hy is met vuur verbrand, afgekap.

Laat hulle vergaan

weens die bedreiging

van u teenwoordigheid.

18Hou tog u hand oor die man

aan u regterkant,

oor die mensekind wat U

vir Uself grootgemaak het.

19Ons sal nie van U wyk nie.

Maak ons lewend!

Net ú Naam sal ons aanroep.

20 Here, God, Heerser oor alle magte,

herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help