Job 29 - Die Bybel 2020-vertaling

1Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê:

2“As dit maar met my kon gaan

soos in vroeër maande,

soos in die dae toe God

my bewaar het;

3 toe Hy sy lamp bo my kop laat skyn het,

toe ek by sy lig in die donker geloop het;

4 soos toe ek my beste dae beleef het,

toe God 'n beskutting bo my tent was;

5 toe die Almagtige nog by my was,

en my kinders rondom my;

6 toe ek my voete in dikmelk kon afspoel,

en klipperige grond strome olie

vir my laat vloei het.

7Wanneer ek uitgegaan het

na die poort, na die stad,

en in die oop ruimte

my sitplek reggeskuif het,

8 het jong manne my gesien en opsy gestaan,

het ou manne regop gekom en bly staan.

9 •Hoë amptenare het hulle woorde teruggehou,

hulle hande voor hulle monde geplaas;

10die stemme van •leiers

het stil geraak,

hulle tonge het aan hulle

verhemeltes gekleef.

11Ja, elke oor wat kon hoor,

het my gelukkig genoem,

en elke oog wat kon sien,

het instemmend vir my geknik.

12 Want ek het magteloses

wat om hulp geroep het, bevry,

ook vaderlose kinders

wat nie 'n helper het nie.

13Die seënspreuk van 'n sukkelaar

het ek ontvang;

die harte van weduwees

het ek laat jubel.

14 Ek het my met wat reg is, beklee,

dit het my klere geword;

my regverdige optrede

was soos 'n mantel en 'n •tulband.

15Ek was oë vir blindes,

en ek was voete vir lammes.

16 Ek was 'n vader vir behoeftiges;

die regsaak van mense

wat ek nie geken het nie,

het ek ondersoek,

17 sodat ek die kake

van 'n boosdoener kon breek,

en prooi uit sy tande kon wegruk.

18“Ek het gedink,

in my eie nes sal ek sterf,

en my lewensdae

sal soos sand vermeerder;

19 my wortels sal strek tot by die water,

en die dou sal oornag op my takke.

20Ek sal nuwe aansien bly geniet;

my boog in my hand

sal vernuwe word.

21“Na my het hulle vol verwagting geluister;

hulle het stilgebly om my raad te hoor.

22En ná my uitspraak het hulle

nie weer gepraat nie;

my verduideliking was

soos druppels water op hulle.

23 Hulle het op my gewag soos op reën,

hulle monde wyd oop vir die laatreëns.

24Ek het vir hulle geglimlag

wanneer hulle dit skaars kon glo;

my stralende gesig

kon hulle nie stroef maak nie.

25Ek het namens hulle die pad gekies

en as leier my plek ingeneem;

ek was tuis onder hulle

soos 'n koning by sy troepe,

soos iemand wat treurendes vertroos.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help