Jesaja 44 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Maar luister nou,

Jakob, my dienaar,

Israel, wat Ek uitgekies het.”

2 So sê die Here, wat jou gemaak,

jou in die moederskoot

al gevorm het,

wat jou help:

“Moenie bang wees nie,

my dienskneg Jakob,

ja, Jesurun, wat Ek uitgekies het.

3 Want Ek sal water uitgiet

op dorre aarde,

waterstrome op droë grond.

Ek sal my Gees uitgiet

op jou nageslag,

en my seën op jou nakomelinge.

4Hulle sal groei tussen gras,

soos rivierwilgers

langs waterstrome.

5Een sal sê,

‘Aan die Here behoort ek,’

en 'n ander een sal die naam

van Jakob uitroep.

Nog een sal op sy hand skryf,

‘Die Here s'n,’

en homself die naam Israel gee.”

6 So sê die Here,

die Koning van Israel,

die Een wat hom loskoop,

die Here, Heerser oor alle magte:

“Ek is die Eerste,

en Ek is die Laaste.

Buiten My is daar geen God nie.

7 Wie is soos Ek?

Laat hy dit uitroep!

Hy moet die saak stel,

dit aan My voorlê,

aangesien Ek die oeroue volk

gevestig het.

Toekomstige gebeure

en wat daarna sou volg,

moes hulle vir die volk

aangekondig het.

8Julle moet nie ontsteld wees nie,

moenie deur vrees verlam word nie.

Het Ek jou, Israel,

dit nie vantevore laat hoor,

dit aangekondig nie?

Julle is my getuies:

Is daar 'n God buiten My?

Daar is nie nog 'n rots nie.

Ek weet nie van een nie.

9 “Dié wat gesnede beelde vorm,

hulle almal is nietig.

Hulle geliefde maaksels

baat hulle niks nie.

Hulle getuig self oor hulle gode,

‘Hulle sien niks nie en weet niks nie,’

sodat hulle beskaamd staan.

10 Wie vorm 'n god,

wie giet 'n afgodsbeeld

wat hom niks baat nie?

11Kyk, al sy aanhangers

staan beskaamd;

en die vakmanne,

hulle is bloot mense.

Hulle kom almal byeen,

neem hulle plekke in,

raak vreesbevange,

staan saam beskaamd.

12 Die ystersmid slyp sy gereedskap,

en werk met gloeiende kole.

Met hamers vorm hy iets

en bewerk dit met sy kragtige voorarm.

Hy word selfs honger

en is sonder krag;

hy drink nie water nie

en raak uitgeput.

13Die skrynwerker span 'n maatlyn;

hy merk die buitelyne af

met 'n griffel.

Hy werk aan die hout

met kerfmesse,

merk in sirkels die buitelyne af.

Hy maak dit in die vorm van 'n man,

'n pragstuk van 'n mens,

om in 'n huis te woon.

14 Dit was vir hom nodig

om seders af te kap;

hy het 'n kroonden of 'n eik geneem,

hy het dit tussen die bome

in die bos laat groei.

Of hy het 'n sparboom geplant,

en die reën het dit laat groei.

15Dit is daar vir 'n mens

om vuur mee te maak;

hy vat daarvan

en maak hom warm.

Hy kan vuur maak

en brood bak daarmee,

én 'n god maak

en daarvoor buig in aanbidding.

Hy maak daarvan 'n afgodsbeeld

en kniel daarvoor neer.

16Die helfte daarvan verbrand hy

in 'n vuur;

op hierdie helfte is vleis

wat hy kan eet;

hy braai dit en word versadig.

Hy maak hom ook warm en sê,

‘A! Ek word warm;

ek sien die gloed van 'n vuur!’

17 En die res daarvan

verwerk hy tot 'n god,

tot sy afgodsbeeld.

Hy kniel daarvoor neer,

buig daarvoor in aanbidding,

aanbid dit en sê,

‘Red my, want u is my god!’

18“Hulle besef dit nie,

hulle het nie insig nie;

want hulle oë is toegesmeer,

sodat hulle nie kan sien nie,

hulle harte,

sodat hulle nie kan begryp nie.

19Hulle neem dit nie ter harte nie,

en het nie die kennis of insig

om te kan dink nie:

Die helfte daarvan

het ek in die vuur verbrand;

ek het ook op die kole daarvan

brood gebak en vleis gebraai

en dit geëet.

En wat daarvan oor is –

tot iets afstootliks maak ek dit;

voor 'n stuk hout kniel ek neer.

20“So iemand bemoei hom met as;

sy hart is mislei en verlei hom.

Hy kan homself nie losruk of vra,

‘Is dit nie dalk 'n stuk bedrog

hier in my regterhand nie?’

21“ Onthou die volgende, Jakob,

ja, Israel,

want jy is my dienskneg:

Ek het jou gevorm,

my dienskneg is jy.

Israel, vir My is jy nie vergete nie.

22 Ek het jou oortredings soos 'n newel,

jou sondes soos 'n wolk weggevee.

Keer terug na My,

want Ek het jou losgekoop.”

23 Jubel, hemel,

want die Here het opgetree!

Juig, dieptes van die aarde!

Breek uit in jubelkrete, berge,

bosse en elke boom daarin;

want die Here het Jakob losgekoop,

in Israel sy heerlikheid getoon!

24 So sê die Here, jou losser,

Hy wat jou in die moederskoot

al gevorm het:

“Ek is die Here

wat alles gemaak het,

wat alleen die hemel oopspan,

wat die aarde uitbrei

– wie was by My? –

25 wat die voortekens

van orakelpriesters verydel,

wat van voorspellers gekke maak,

wat wyses laat terugdeins

en hulle kennis belaglik maak,

26wat die woord

van sy dienskneg bevestig,

wat die plan

van sy boodskappers uitvoer,

die Een wat oor Jerusalem sê,

‘Sy sal bewoon word,’

en oor die dorpe van Juda,

‘Hulle sal herbou word,

Ek sal sy puinhope weer oprig,’

27 die Een wat vir die diepsee sê,

‘Word droog!

Jou seestrome gaan Ek drooglê,’

28 die Een wat oor Kores sê,

‘Hy is my herder;

en alles wat Ek wil, sal hy uitvoer,’

deur oor Jerusalem te sê,

‘Sy sal herbou word,’

en die •tempel –

‘sy fondament sal gelê word.’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help