Spreuke 17 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n Stukkie droë brood,

met rus daarby,

is beter as 'n huis vol •maaltydoffers,

met 'n getwis daarby.

2 'n Verstandige dienaar sal heers

oor 'n seun wat skande maak,

en sal saam met die broers

deel in die erfenis.

3 'n Smeltkroes is vir silwer,

en 'n smeltoondjie vir goud,

maar die Here toets harte.

4'n Kwaaddoener gee aandag

aan lippe vol boosheid;

'n leuenaar spits sy oor

vir 'n tong vol vernietiging.

5 Wie 'n arme bespot,

beledig sy Maker;

wie bly is oor teenspoed,

sal nie ongestraf bly nie.

6 Die kroon van oumense

is kleinkinders,

en die roem van kinders

is hulle ouers.

7 Breedsprakigheid pas nie

by 'n nikswerd nie –

hoeveel minder nog leuentaal

by 'n vooraanstaande persoon!

8 'n Omkoopgeskenk

is 'n gelukbringer in die oë

van wie dit besit –

waar hy hom ook al heen wend,

hy gaan sukses behaal!

9 Wie 'n oortreding bedek,

streef na liefde,

maar wie 'n saak telkens ophaal,

skei boesemvriende.

10 'n Dreigement

maak 'n groter indruk

op iemand met insig

as honderd houe op 'n dwaas.

11 'n Slegte mens

streef net na opstand,

en 'n hartelose boodskapper

word teen hom uitgestuur.

12 'n Beer van haar kleintjies beroof

kan eerder op 'n mens afkom,

as 'n dwaas in sy sotheid.

13 As iemand goed met kwaad

vergeld,

sal onheil nie sy huis verlaat nie.

14 Die begin van 'n stryd

is water wat deurbreek.

Laat dit vaar voor die getwis losbars!

15 Hy wat 'n goddelose vryspreek,

en hy wat 'n regverdige

skuldig verklaar,

is albei afstootlik vir die Here.

16 Waarom is daar geld

in 'n dwaas se hand?

Is dit om wysheid te koop,

terwyl hy geen verstand het nie?

17 'n Vriend betoon te alle tye liefde,

en 'n broer is gebore vir tye van nood.

18 'n Mens sonder verstand

gee hand;

hy staan borg vir sy medemens.

19 Wie van oortreding hou,

hou van rusie;

wie sy ingang hoog bou,

vra vir ineenstorting.

20 Wie 'n valse hart het,

vind nie die goeie nie,

en wie bedrieglik met sy tong is,

beland in die moeilikheid.

21 Wie 'n dwaas verwek –

tot verdriet is dit vir hom;

en die vader van 'n nikswerd

sal geen blydskap ervaar nie.

22 'n Vrolike hart

is goed vir herstel,

maar 'n neerslagtige gees

sal die gebeente uitdroog.

23 'n Omkoopgeskenk

uit die vou van 'n kleed –

'n goddelose aanvaar dit

om die reg te dwarsboom.

24 Iemand met insig

hou wysheid voor oë,

maar die oë van 'n dwaas is gerig

op die eindes van die aarde.

25'n Dwase seun is 'n ergernis

vir sy vader,

en 'n bitterheid vir haar wat hom

in die wêreld gebring het.

26 Om 'n regverdige 'n boete

op te lê, is alreeds nie goed nie;

om vooraanstaandes te slaan,

druis in teen wat reg is.

27 Wie sy woorde terughou

is vertroud met kennis,

en wie grootmoedig van gees is,

is 'n skerpsinnige mens.

28 Selfs 'n sot wat stilbly,

word as wys beskou,

as verstandig,

wanneer hy sy lippe dig hou.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help