Miga 5 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Maar jy, Betlehem-Efrata,

al is jy gering in die streke

van Juda,

uit jou sal daar vir My iemand kom

om 'n heerser te wees in Israel.

Sy oorsprong is

uit die verre verlede,

uit die dae van weleer. ”

2 Dit is waarom die Here

hulle sal oorgee

tot die tyd aanbreek

vir 'n swanger vrou

om geboorte te skenk.

Dan sal die res van sy volksgenote

terugkeer saam met

die Israeliete.

3 Hy sal optree en as herder lei

deur die krag van die Here,

deur die grootheid

van die Naam van die Here sy God.

Hulle sal veilig gevestig wees,

want dan sal hy magtig wees

tot aan die uithoeke van die aarde.

4“Hierdie een sal ongedeerd wees.

Wanneer Assirië ons land binnekom,

sy voete in ons vestings sit,

sal ons sewe herders,

ja, agt stamhoofde uit die mense

teen hulle opstel.

5Hulle sal die land Assirië

met die swaard kaalstroop,

die land van Nimrod met dolke.

Hy sal ons van Assirië red

wanneer hulle ons land binnekom

en ons grense oorsteek.

6 Die oorblyfsel van Jakob

sal tussen al die nasies wees

soos dou wat van die Here kom,

soos sagte reën op gras,

wat niks van 'n mens verwag nie,

geen hoop op mense vestig nie.

7Die oorblyfsel van Jakob

sal tussen die nasies,

te midde van baie volke,

soos 'n leeu tussen

wilde diere wees,

soos 'n jong leeu

onder 'n trop kleinvee:

As hy verbygaan en vertrap

en verskeur,

is daar niemand wat red nie.

8Mag jy die oorhand hê

oor jou teenstanders;

ja, al jou vyande –

laat hulle uitgeroei word!”

9 “Op daardie dag,”

is die uitspraak van die Here,

“sal Ek jou perde wat by jou is,

uitdelg,

en jou strydwaens vernietig.

10Ek sal ook die stede

in jou land uitdelg

en al jou versterkte stede afbreek.

11 Ek sal die towery

waarmee jy besig is, uitdelg,

en jy sal nie meer waarsêers hê nie.

12 Ek sal jou afgodsbeelde

en gedenkstene

wat in jou midde is, uitdelg,

en jy sal nie meer

voor jou eie handewerk

in aanbidding buig nie.

13Ek sal jou asjeras

wat in jou midde is, uitruk,

en jou stede verwoes.

14Ek sal in toorn en woede

wraak neem op die nasies

wat nie luister nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help