Job 5 - Die Bybel 2020-vertaling

1“Roep maar!

Sal daar iemand wees

wat jou antwoord?

Tot wie van die heiliges

sal jy jou wend?

2Want ergernis lei tot die dood van 'n sot,

en naywer laat die onverstandige sterf.

3 Ek self het 'n sot sien wortel skiet,

maar skielik kon ek sy tuiste

in 'n vloek gebruik.

4 Sy kinders is ver van veiligheid;

hulle word vertrap

in die stadspoort,

en niemand kan hulle red nie.

5Dit wat hy geoes het,

word deur hongeres verteer;

selfs uit die dorings

gaan haal hulle dit;

en dorstiges smag na hulle besittings.

6Ja, onheil kom nie voort

uit die stof nie,

en teenspoed spruit nie

uit die grond nie;

7 maar die mens is vir teenspoed gebore,

soos vonke na bo vlieg.

8“Ek, daarenteen,

sou God raadpleeg,

aan God

sou ek my saak voorlê,

9 aan Hom wat groot

en ondeurgrondelike dinge,

ontelbare wonders, doen –

10 Hy wat reën gee oor die aarde,

wat water uitstuur oor die oop veld,

11 om nederiges op die hoogte te plaas,

en hulle wat rou,

veilig te maak in die hoogte,

12 Hy wat die planne van listiges verydel,

sodat hulle hande niks suksesvol

uitrig nie,

13 Hy wat wyses met hulle

eie slinksheid vang,

sodat die planne van geslepenes

vinnig tot 'n einde kom.

14 Oordag stuit hulle op die donker;

teen die middag tas hulle rond

asof dit in die nag is.

15Hy verlos 'n behoeftige

uit die mag van sterkes,

van die swaard in hulle monde.

16 So is daar vir armes hoop,

en ongeregtigheid hou die mond toe.

17“ Kyk, gelukkig is die mens

vir wie God teregwys;

die tugtiging van die Almagtige –

moet dit nie verwerp nie!

18 Want Hy is die een

wat pyn veroorsaak,

maar ook verbind,

Hy verbrysel,

maar sy hande genees ook.

19 Uit ses benoudhede sal Hy jou red,

in sewe sal boosheid jou nie aantas nie.

20 In hongersnood sal Hy jou loskoop

van die dood,

in 'n geveg, uit die mag van die swaard.

21 Wanneer die tong gesel,

word jy weggesteek;

jy hoef nie te vrees vir verwoesting

wanneer dit kom nie.

22Vir verwoesting en honger

sal jy lag;

vir die wilde diere van die aarde

sal jy nie bang wees nie.

23 Want met die klippe van die veld

het jy 'n verbond;

die diere van die veld

handhaaf vrede met jou.

24Jy sal dit beleef

dat jou tent veilig is;

en as jy voorraad neem op jou weiveld,

vermis jy niks.

25 Jy sal dit beleef

dat jou nageslag baie is;

jou nakomelinge sal wees

soos die plante van die aarde.

26 Jy sal in volle lewenskrag

na die graf gaan,

soos gerwe op hulle tyd

na die dorsvloer gaan.

27Kyk, dit is wat ons ondersoek het;

so is dit.

Luister daarna!

Beleef dit self!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help