1Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het.
א ALEF2 Ek wil die Here die hele tyd prys,
my mond is voortdurend vol van sy lof.
ב BET3In die Here sal ek roem;
verdruktes sal dit hoor
en hulle verheug.
ג GIMEL4Maak saam met my
die Naam van die Here groot,
ja, laat ons saam sy Naam verheerlik.
ד DALET5Ek het die Here geraadpleeg,
en Hy het my geantwoord;
van al my verskrikkinge
het Hy my gered.
ה HE6Verdruktes kyk op na Hom
en hulle straal;
hulle gesigte hoef nie rooi
van skaamte te wees nie.
ז ZAJIN7Hierdie magtelose het geroep
en die Here het gehoor,
en uit al sy benoudhede
het Hy hom verlos.
ח GET8Die •Engel van die Here
trek 'n laer rondom hulle
wat vir die Here ontsag het
en Hy red hulle.
ט TET9 Beproef dit en ervaar:
Die Here is goed,
gelukkig is die mens
wat by Hom skuil.
י JOD10Julle moet ontsag hê vir die Here,
julle wat aan Hom toegewy is;
want wie vir Hom ontsag het,
ly geen gebrek nie.
כ KAF11Jong leeus kry swaar en ly honger,
maar wie die Here soek,
ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.
ל LAMED12Kom, kinders, luister na my,
ontsag vir die Here sal ek julle leer.
מ MEM13 Wie is die mens wat lewe begeer,
graag jare wil hê
om die goeie te ervaar?
נ NUN14 Weerhou jou tong van kwaad
en jou lippe daarvan
om bedrieglik te praat.
ס SAMEK15Vermy die kwaad, en doen die goeie;
soek vrede, en jaag dit na.
ע AJIN16 Die oë van die Here
is op die regverdiges,
sy ore op hulle hulpgeroep.
פ PE17Die gesig van die Here
is gerig teen kwaaddoeners
om hulle gedagtenis uit te roei
van die aarde af.
צ TSADE18Regverdiges roep om hulp
en die Here luister,
uit al hulle benoudhede red Hy hulle.
ק KOF19Die Here is na aan hulle
wat gebroke harte het;
wie se gees verpletter is, verlos Hy.
ר RESJ20 'n Regverdige ervaar baie teenspoed,
maar uit dit alles red die Here hom.
שׁ SJIN21Hy beskerm al sy bene;
nie een van hulle word gebreek nie.
ת TAW22Boosheid veroorsaak
'n goddelose se dood
en hulle wat 'n regverdige haat,
sal daarvoor boet;
23die Here red die lewens
van sy diensknegte
en niemand wat by Hom skuil,
sal boet nie.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.