Prediker 11 - Die Bybel 2020-vertaling

Gedig oor risiko's

1Stuur jou graan oor die water,

want ná baie dae kan jy dit terugkry.

2Gee 'n deel aan sewe, selfs aan agt,

want jy weet nie watter ramp

op die aarde sal gebeur nie.

3As die wolke vol reën is,

giet hulle dit uit op die aarde;

en as 'n boom val,

na die suide of na die noorde –

waar die boom moet val,

daar sal dit val.

4Wie die wind dophou,

sal nie saai nie;

en wie na die wolke kyk,

sal nie oes nie.

5Soos wat jy nie weet watter weg

die gees volg in die gebeente

binne die buik

van 'n swanger vrou nie,

net so ken jy nie die werk

van God wat alles doen nie.

6Saai in die môre jou saad,

en laat teen die aand jou hand

nie rus nie;

want jy weet nie watter een

gaan slaag nie,

hierdie of daardie,

en of beide goed sal wees nie.

Slotgedig oor jonkwees en die dood

7Soet is die lig;

dit is goed vir die oë

om die son te sien.

8Ja, as die mens baie jare leef,

moet hy hom in hulle almal verheug;

maar hy moet onthou

dat die donker dae

baie gaan wees.

Alles wat kom, is sinloos.

9Verheug jou, jong man,

in jou jeug;

jou hart moet jou vrolik maak

in jou jong dae.

Volg die paaie van jou hart

en waarheen jou oë jou lei;

maar weet: Oor al hierdie dinge

sal God jou voor die gereg bring.

10Weer kwelling uit jou hart

en hou lyding weg van jou liggaam,

want die jeug en die bloei

van die lewe is sinloos.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help