Hooglied 4 - Die Bybel 2020-vertaling

Hy:

1 O, hoe mooi is jy, my liefling,

hoe mooi is jy!

Jou oë is duiwe agter jou sluier,

jou hare 'n trop bokke wat teen

die berge van Gilead afstroom.

2 Jou tande is soos 'n kudde

pas geskeerde skape

wat van die drinkplek af opkom,

almal tweelinge,

nie een van hulle op sy eie nie.

3 Soos karmosynrooi lint is jou lippe,

jou mond is pragtig.

Agter jou sluier is jou slape

soos 'n oopgebreekte granaat.

4 Jou nek is soos die Dawidstoring

wat in kliplae gebou is,

waaraan 'n duisend skilde hang,

al die rondeskilde van die krygshelde.

5 Jou borste is soos twee

jong bokkies,

die tweeling van 'n ribbokooi,

wat tussen narsings wei.

6 Totdat die dag begin asemhaal

en die skaduwees vlug,

gaan ek na die mirreberg,

na die wierookheuwel.

7 Alles aan jou is mooi, my liefling,

jy is heeltemal vlekkeloos.

8 Kom saam met my

van die Libanon af, my bruid,

saam met my van die Libanon af.

Daal af van die kruin van Amana,

van die kruin van Senir,

van Hermon,

van die lêplekke van die leeus,

van die berge waar die luiperds hou.

9Jy het my hart gesteel,

my suster, my bruid,

jy het my hart gesteel

met een kyk van jou oë,

met een kettinkie van jou halssnoer.

10 Hoe verruklik is jou liefkosings,

my suster, my bruid.

Hoeveel beter is jou liefkosings as wyn,

die geur van jou reukolie

as al die speserye.

11 Jou lippe drup heuning, my bruid,

heuning en melk is onder jou tong,

jou klere dra die geur van die Libanon.

12 'n Toegesluite tuin is my suster,

my bruid, 'n toegesluite put,

'n verseëlde fontein.

13 Jou bloeisels is 'n boord granate

met heerlike vrugte,

henna met nardus,

14 nardus en saffraan,

kalmoes en kaneel;

met elke soort wierookplant,

mirre en adelhout;

met al die kosbaarste speserye.

15 Jy is 'n fontein vir tuine,

'n put met vars water

wat van die Libanon af vloei.

Sy:

16 Steek op, noordewind,

kom, suidewind,

waai deur my tuin,

laat die geur van sy speserye versprei.

Laat my liefste na sy tuin kom

en sy heerlike vrugte eet.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help