Psalms 59 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe Saul mense gestuur het om die huis dop te hou en hom dood te maak.

2 Red my van my vyande, my God;

hou my buite die bereik van hulle

wat teen my opstaan.

3Red my van hulle wat onreg pleeg

en verlos my van mense

wat bloed vergiet;

4want kyk, hulle lê my voor,

sterkes val my aan.

Nie omdat ek oortree

of gesondig het nie, Here –

5sonder dat ek sondeskuld het,

hardloop hulle en neem

teen my stelling in.

Word wakker,

sodat U my te hulp kan kom;

sien dit tog raak!

6U, Here God,

Heerser oor alle magte,

God van Israel,

staan tog op om al die nasies

tot verantwoording te roep;

moenie genadig wees teenoor

al die bose verraaiers nie. •Sela

7Hulle keer terug teen die aand;

hulle gaan tekere soos honde

en sluip in die stad rond.

8Kyk, uit hulle monde skuim woorde,

daar is swaarde op hulle lippe:

“Wie hoor dit?”

9Maar U, Here, U lag vir hulle;

U dryf die spot met al die nasies.

10My Sterkte, aan U wil ek vashou.

Ja, God is my toevlugsoord.

11Die God aan wie ek toegewy is,

sal my tegemoetkom;

God sal my laat neersien op my vyande.

12Moet hulle nie doodslaan nie,

sodat my volk nie vergeet nie.

Laat hulle rondswerf deur u krag,

en bring hulle dan tot 'n val,

my Heer, ons Skild.

13Hulle sondig met hulle monde,

met die woorde op hulle lippe.

Laat hulle verstrik raak

in hulle hoogmoed

oor die vervloeking

en die leuens wat hulle vertel.

14Delg uit in woede, delg uit,

sodat hulle nie bestaan nie.

Dan sal mense tot by die uithoeke

van die aarde weet:

God heers in Jakob. Sela

15Hulle keer terug teen die aand,

hulle gaan tekere soos honde

en sluip in die stad rond.

16Hulle dwaal rond op soek na kos;

as hulle nie genoeg kry nie,

grom hulle.

17Maar ek, ek sing van u krag.

In die môre jubel ek oor u troue liefde,

want U was vir my 'n toevlugsoord,

'n skuilplek op die dag van my nood.

18My Sterkte, ek wil U besing.

Ja, God is my toevlugsoord,

die God aan wie ek toegewy is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help