Numeri 12 - Die Bybel 2020-vertaling

Uitdaging van Moses se gesag

1 Mirjam en ook Aäron het teen Moses uitgevaar oor die Kussiet wat hy as vrou geneem het. Ja, hy het 'n Kussiet as vrou geneem!

2 Hulle het gesê: “Is dit dan net deur Moses wat die Here gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die Here het dit gehoor.

3 Maar die man Moses was baie beskeie, meer as enige mens op aarde.

4Die Here het dadelik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle drie na die Tent van Ontmoeting!” Hulle drie het toe gegaan.

5 Die Here het in die wolkkolom afgekom. Hy het by die ingang van die tent gestaan en Aäron en Mirjam geroep. Toe hulle twee vorentoe kom,

6 het Hy gesê: “Luister nou na my woorde:

“As daar 'n profeet onder julle is,

sal Ek, die Here, Myself

in 'n visioen aan hom bekend maak;

in 'n droom sal Ek met hom praat.

7 Met my dienskneg Moses is dit anders.

In my hele huishouding

is hy betroubaar.

8Van aangesig tot aangesig

praat Ek met hom,

in 'n verskyning, nie in raaisels nie;

die verskyningsvorm van die Here

sien hy.

Waarom was julle dan nie bang

om teen my dienskneg, Moses,

uit te vaar nie?”

9 Die toorn van die Here het teen hulle ontbrand, en Hy het weggegaan.

10 Toe die wolk van die tent af terugtrek, staan Mirjam daar met 'n velsiekte, wit soos sneeu. Aäron het na Mirjam gedraai en jou waarlik, sy het 'n velsiekte!

11Aäron het vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie die straf vir die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het, op ons lê nie.

12Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind, waarvan die liggaam, wanneer dit uit die moederskoot kom, reeds halfpad verteer is nie.”

13 Moses het toe na die Here om hulp geroep: “O God, asseblief, maak haar tog weer gesond!”

14 Daarop sê die Here vir Moses: “As haar vader haar maar net in haar gesig gespoeg het, sou sy nie sewe dae lank in skande gewees het nie? Laat sy sewe dae lank buite die kamp uitgesluit word; daarna kan sy terugkeer.”

15Mirjam is toe sewe dae lank buite die kamp uitgesluit, en die volk het nie weggetrek totdat Mirjam teruggekeer het nie.

16 Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help