Spreuke 2 - Die Bybel 2020-vertaling

Voordele van wysheid

1 My seun, as jy my woorde aanvaar,

my opdragte veilig by jou hou

2 deur aandagtig te luister

na wysheid,

jou hart te rig op verstandigheid,

3 ja, as jy om insig roep,

hardop roep om verstandigheid,

4 as jy dit nastreef soos silwer,

dit soos 'n verborge skat naspeur,

5 dan sal jy insig hê in ontsag

vir die Here,

en kennis van God sal jy vind.

6 Ja, net die Here gee wysheid,

uit sy mond kom kennis

en verstandigheid.

7 Vir die opregtes hou Hy

vindingrykheid in bewaring,

as 'n skild vir hulle

wat onberispelik leef,

8 deurdat Hy die paaie

van die reg bewaak;

die pad van sy getroue volgelinge

beskerm Hy.

9 Dan sal jy verstaan

wat regverdig, billik en reg is –

elke goeie pad.

10 Want wysheid

sal in jou hart inkom,

en kennis sal vir jou aangenaam wees.

11 Goeie oordeel sal oor jou wag hou,

verstandigheid sal jou bewaak

12om jou te red

van die pad van onheil,

van iemand wat verdorwe

uitsprake maak,

13van hulle wat reguit paaie

verlaat om op donker weë te gaan,

14van hulle wat vreugde daarin

vind om kwaad te doen,

wat juig oor die verdorwenheid

van die kwaad,

15hulle wie se paaie verdraai is,

en wat die spoor byster is

op hulle roetes,

16 en om jou te red

van 'n vreemde vrou,

van die uitlander met haar vleitaal,

17wat die boesemvriend

van haar jeug verlaat,

die verbond van haar God vergeet.

18Ja, na die dood sak haar huis af,

na die skimme haar spore.

19Almal wat na haar gaan –

hulle keer nie terug nie,

hulle bereik nie weer die paaie

van die lewe nie.

20 Dus, jy moet die pad

van goeie mense loop,

en die weë van regverdiges –

daarby moet jy hou.

21 Want opregtes

sal die land bewoon,

en wie onberispelik is,

sal daarin agterbly.

22 Maar die goddeloses

sal uit die land uitgeroei word,

en wie verraderlik optree,

sal daaruit weggeruk word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help