Romeine 10 - Die Bybel 2020-vertaling

1Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle verlos mag word.

2Ek kan inderdaad vir hulle getuig dat hulle God met ywer dien, maar sonder insig.

3 Omdat hulle die •geregtigheid wat van God af kom, nie begryp nie, en probeer om hulle eie geregtigheid tot stand te bring, het hulle hulle nie onderwerp aan die geregtigheid wat van God af kom nie.

4 Die einddoel van die wet is immers •Christus, tot regverdiging van elkeen wat glo.

Evangelie vir alle volke

5Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.”

6Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om •Christus af te bring –

7“of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie.

8Nee, wat sê dit?

“Hier by jou is die woord,

in jou mond

en in jou hart” –

dit is die woord van geloof wat ons verkondig.

9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.

10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos.

11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”

12Dit maak inderdaad geen verskil of jy 'n Jood of 'n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep.

13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig?

15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

16Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?”

17Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.

18Ek vra egter: “Het hulle dit dan nie gehoor nie?” Inderdaad, want:

“Oor die hele aarde

het hulle stem uitgegaan,

en hulle woorde

tot by die uithoeke

van die bewoonde wêreld.”

19Ek vra weer: “Het Israel dit dan nie verstaan nie?” Eers sê Moses:

“Ek gaan julle jaloers maak

op mense wat geen volk is nie;

oor 'n onkundige volk

gaan Ek julle kwaad maak.”

20En Jesaja gaan selfs so ver om te sê:

“Ek is gevind deur diegene

wat nie na My gesoek het nie;

Ek het verskyn aan diegene

wat nie na My gevra het nie.”

21Maar van Israel sê hy:

“Die hele dag deur het Ek

my hande uitgestrek

na 'n ongehoorsame

en opstandige volk.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help