1Ag, hoe verlate lê die stad
wat vol mense was.
Sy het soos 'n weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies.
Die prinses onder die provinsies,
verrig dwangarbeid.
ב BET2 Bedroef huil sy snags,
die trane stroom oor haar wange.
Daar is niemand onder haar geliefdes
wat haar troos nie.
Al haar vriende het haar verraai
en haar vyande geword.
ג GIMEL3 Gebuk onder lyding
en geweldige onderdrukking,
het Juda in ballingskap gegaan.
Sy bevind haar onder die nasies;
sy vind geen rus nie.
Almal wat haar agtervolg, het haar
in haar benoudheid ingehaal.
ד DALET4 Die paaie na Sion treur,
want niemand reis
na haar feeste toe nie;
al haar poorte is verlate,
haar priesters sug.
Haar jong meisies is bedroef,
en self het sy dit bitter.
ה HE5 Haar teenstanders
het die oorhand gekry;
haar vyande lewe rustig,
want die Here het haar laat ly,
omdat sy soveel keer oortree het.
Haar kinders moes as ballinge
voor teenstanders uit loop.
ו WAW6 Weg is al die luister
van die dogter van Sion.
Haar leiers het soos rooitakbokke
sonder weiding geword,
kragteloos het hulle
voor hulle agtervolgers uit gevlug.
ז ZAJIN7 In die tye van nood en omswerwinge
onthou Jerusalem alles
wat vir haar kosbaar was in die verlede.
Toe haar volk in die hand
van teenstanders val,
was daar vir haar geen helper nie.
Die teenstanders het na haar gekyk,
hulle het oor haar ondergang gelag.
ח GET8 Groot is die sonde van Jerusalem;
daarom het sy onrein geword.
Almal wat haar geëer het, verag haar,
omdat hulle haar naaktheid gesien het.
En sy, sy kreun en draai weg.
ט TET9 Tot aan haar klere
kleef haar onreinheid.
Sy het nie gedink aan wat van haar
sou word nie.
Haar ondergang was verskriklik;
daar is niemand wat haar troos nie.
Here, kyk tog na my nood,
want die vyand is vermetel.
י JOD10 Teenstanders het alles
wat vir haar kosbaar was, ingepalm;
ja, sy moes toekyk hoe die nasies
haar heiligdom betree,
hulle vir wie U belet het
om in u gewyde vergadering te kom.
כ KAF11 Kreunend soek haar hele volk na kos.
Om te oorleef, het hulle
hulle kleinode verruil vir iets om te eet.
Kyk tog, Here, sien raak
hoe ek verag word.
ל LAMED12 Laat dit julle koud,
julle almal wat met die pad verbygaan?
Sien dit tog raak en kyk!
Is daar nog smart soos die smart
wat Hy my aangedoen het,
wat die Here my op die dag
van sy brandende toorn laat ly het?
מ MEM13 Met vuur uit die hoogte
het Hy my gebeente oorweldig.
Hy het 'n vangnet vir my voete gespan,
my laat terugsteier.
Hy het my aan verlatenheid oorgelewer;
heeldag voel ek swak.
נ NUN14 Die juk van my oortredings is swaar,
dit is vasgemaak deur sy hand;
dit druk op my nek.
Hy het my kragte laat ingee;
my Heer het my oorgegee
in die hande van diegene teen wie
ek geen weerstand kan bied nie.
ס SAMEK15 My Heer het al my sterk manne
binne-in my byeen gejaag –
Hy het 'n feestyd oor my uitgeroep
vir die slagting van my jong soldate.
My Heer het die jongmeisie,
die dogter van Juda,
in die parskuip vertrap.
ע AJIN16 Aanhoudend huil ek hieroor,
my oë stroom van trane,
want die trooster wat my
kon opbeur, is ver van my af.
My kinders is verpletter,
want die vyand het die oorhand verkry.
פ PE17 Sion strek haar hande uit,
maar daar is niemand om haar te troos nie.
Die Here het almal om Jakob
teen hom opgeroep as sy teenstanders.
Jerusalem het tussen hulle
'n onrein vrou geword.
צ TSADE18 'n Regverdige is die Here;
ja, ek het teen sy woord gerebelleer.
Luister tog, alle volke,
en sien my smart raak;
my jong vroue en jong manne
het in ballingskap gegaan.
ק KOF19 Ek het geroep na dié wat my liefhet,
maar hulle het my in die steek gelaat.
My priesters en oudstes
het in die stad omgekom
toe hulle na kos gesoek het
om te oorleef.
ר RESJ20 Kyk, ek is benoud, Here,
my ingewande gloei.
In my krimp my hart ineen,
want ek was baie opstandig.
Buite maai die swaard af,
en in die huis is dit soos die dood.
שׁ SJIN21 Hulle hoor dat ek kreun,
maar niemand troos my nie.
Al my vyande hoor van my rampspoed;
hulle juig omdat U dit veroorsaak het.
Laat kom die dag wat U bepaal het,
sodat dit met hulle kan gaan
soos met my.
ת TAW22 Laat al hulle boosheid voor U kom,
en doen aan hulle
wat U aan my gedoen het
oor al my oortredings.
Ja, ek sug baie en my hart is ontsteld.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.