Job 22 - Die Bybel 2020-vertaling

Elifas se derde betoog

1 Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:

2“ Kan 'n man vir God

van waarde wees?

Ja, kan selfs iemand met insig

vir Hom van waarde wees?

3 Vind die Almagtige vreugde daarin

wanneer jy regverdig optree,

of hou dit vir Hom voordeel in

wanneer jy onberispelik optree?

4Is dit oor jou ontsag vir Hom

dat Hy jou teregwys,

met jou in 'n regstryd betrokke raak?

5Is jou boosheid nie groot nie?

Daar is geen einde

aan jou sondeskuld nie!

6 Ja, jy het sonder rede 'n pand

geneem van jou volksgenote,

die klere van halfnaaktes afgestroop.

7 Jy het geen water te drinke gegee

aan wie uitgeput was nie,

van wie honger was,

het jy brood weerhou.

8Mense met mag,

vir hulle was grond beskikbaar,

dié met aansien,

hulle kon daarop woon.

9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur,

die hande van vaderlose kinders is afgekap.

10 Daarom is daar valstrikke rondom jou,

en oorweldig vrees jou onverwags.

11 Of sien jy nie die duisternis,

die watervloed wat jou bedek nie?

12“ Is God nie in die hoë hemel nie?

Kyk maar net na die hoogste sterre,

ja, kyk hoe hoog is hulle!

13 Maar jy sê,

‘Wat weet God?

Kan Hy deur diepe duisternis

'n oordeel vel?

14 Wolke omhul Hom;

Hy sien nie terwyl Hy bo

die hemelkoepel rondwandel nie.’

15Wil jy by die oeroue pad hou

wat bose mense oopgetrap het,

16hulle wat voor hulle tyd

weggeruk word,

hulle wie se fondament

deur 'n rivier weggevoer word,

17 hulle wat vir God gesê het,

‘Bly van ons af weg!’

en,

‘Wat kan die Almagtige

aan ons doen?’

18 en dit terwyl Hy die Een is

wat hulle huise gevul het met die goeie?

Maar die planne van goddeloses

is ver van my.

19Regverdiges sien dit en is bly.

Onskuldiges dryf die spot met hulle,

20‘Voorwaar, ons teenstanders is uitgewis,

en wat van hulle oor was,

is deur vuur verteer.’

21“As jy jou maar met Hom versoen,

sal jy daardeur vrede hê;

dan sal die goeie weer na jou toe kom.

22Aanvaar tog die onderrig uit sy mond,

en hou sy woorde in jou hart.

23As jy terugkeer na die Almagtige,

sal jy herbou word –

as jy onreg uit jou tent verwyder.

24Gooi gouderts in die stof,

goud van Ofir tussen die rotse van die spruite.

25Dan sal die Almagtige

jou gouderts en uitgesoekte

silwer vir jou wees.

26 Ja, dan sal jy jou vreugde vind

by die Almagtige,

en jou gesig na God ophef.

27Jy sal by Hom pleit

en Hy sal jou verhoor;

jou beloftes sal jy betaal.

28Jy sal oor 'n saak besluit,

en dit sal vir jou vervul word;

oor jou paaie sal 'n lig skyn.

29 Wanneer mense iemand verneder,

sal jy sê,

‘Dit is hoogmoed!’

Wie neergeslane oë het, verlos Hy.

30Hy bevry selfs iemand

wat nie onskuldig is nie,

iemand wat sal ontkom

omdat jou hande skoon is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help