Obadja 1 - Die Bybel 2020-vertaling

Opskrif

1Die openbaring aan Obadja.

Oordeel oor Edom

Dit is wat die Here, my Heer oor Edom gesê het.

Ja, ons het 'n boodskap gehoor

wat van die Here af kom.

'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur:

“Staan op!

Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!”

2“ Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies;

jy sal heeltemal verag word.

3 Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou,

jy wat tuis is in die rotsskeure

van jou hoë woonplek,

wat in jou hart sê,

Wie sal my afbring aarde toe?

4 Al sou jy jou nes so hoog maak

soos dié van 'n arend,

selfs al sou jy tussen die sterre nes maak,

van daar af sal Ek jou afbring,”

is die uitspraak van die Here.

5“ Was dit maar diewe

wat na jou toe gekom het,

was dit maar diewe in die nag!

Hulle steel darem net

tot hulle genoeg het.

Hoe word jy vernietig!

Was dit maar druiweplukkers

wat na jou toe gekom het!

Hulle laat darem natrossies agter.

6 Hoe word Esau deursoek,

sy wegsteekplekke kaal gestroop!

7 Almal met wie jy

'n verbond gesluit het,

stuur jou terug tot by die landsgrens.

Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê,

daardie mense met wie jy

'n vredesooreenkoms het.

Hulle wat saam met jou geëet het,

laat 'n vreemde jou plek inneem.

Daar is nie meer raad in Edom oor nie!”

8 “Sal Ek nie op daardie dag,”

is die uitspraak van die Here,

“wyse manne uit Edom laat verdwyn

en raadgewers uit die bergland

van Esau nie?”

9 Teman, jou krygshelde sal verskrik wees,

sodat mense uitgeroei sal word

op die bergland van Esau.

“Vanweë moord,

10 vanweë geweld

teen jou broer Jakob,

sal skaamte jou oorval

en jy sal uitgeroei word vir altyd.

11 Die dag toe jy eenkant gaan staan het,

die dag toe vreemdes die besittings

van Jakob weggevoer het,

toe buitelanders sy poorte binnegedring

en geloot het oor Jerusalem,

was ook jy soos een van hulle!

12 Jy moes nie gestaan en toekyk het

op die dag van jou broer,

op die dag toe 'n ramp

hom getref het nie.

Jy moes nie bly gewees het oor die Judeërs

op die dag van hulle ondergang nie.

Jy moes nie 'n groot mond gehad het

op die dag van angs nie.

13 Jy moes nie in die poort

van my volk gekom het

op die dag van hulle teenspoed nie.

Jy moes nie ook sy onheil staan en dophou het

op die dag van sy teenspoed nie.

Jy moes nie jou hande

uitgesteek het na sy besittings

op die dag van sy teenspoed nie.

14 Jy moes nie op die ontsnaproetes

gaan staan het om sy vlugtelinge

uit te roei nie.

Jy moes nie sy mense

wat wou ontvlug uitgelewer het

op die dag van angs nie.

15Voorwaar, die dag van die Here

oor al die nasies is naby!

Soos wat jy gedoen het,

sal aan jou gedoen word.

Jou daad sal terugkeer op jou kop. ”

Boodskap van die Here

aan sy volk

16“ Ja, soos wat julle die beker moes drink

op my heilige berg,

sal al die nasies voortdurend

moet drink.

Hulle sal drink en onsamehangend praat

en hulle sal wees asof hulle

nooit bestaan het nie.

17 Maar op die berg Sion

sal daar ontvlugting wees,

en Sion sal heilig wees.

“Die huis van Jakob sal dié

wat hulle verdryf het, uitdryf.

18 Die huis van Jakob sal vuur wees

en die huis van Josef 'n vlam,

maar die huis van Esau sal strooi wees.

Die vuur sal die strooi brand en dit verteer.

Daar sal van die huis van Esau

nie een ontvlug nie.”

Want die Here het dit gesê.

Terugkeer uit ballingskap

19 Hulle sal die Negev saam met die bergland van Esau in besit neem, die Sjefela saam met Filistea. Hulle sal die gebied van Efraim en die gebied van Samaria in besit neem en Benjamin saam met Gilead.

20 Die ballinge van hierdie leër, die Israeliete, sal Kanaänitiese gebied in besit neem tot by Sarfat, en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die Negev in besit neem.

21 Verlossers sal dan na die berg Sion opgaan om oor die bergland van Esau te regeer; en die koningskap sal aan die Here behoort.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help