Spreuke 29 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Iemand wat ná teregwysings

hardnekkig bly,

sal onverwags verpletter word,

sonder kans op herstel.

2 Wanneer regverdiges meer word,

is die volk verheug;

maar wanneer goddeloses heers,

sug 'n volk.

3 Iemand wat wysheid liefhet,

verheug sy vader;

maar wie met prostitute

deurmekaar raak, vernietig rykdom.

4 'n Koning hou deur die reg

'n land in stand;

maar hy wat heffings oplê,

breek dit af.

5 'n Man wat sy medemens vlei,

span 'n vangnet vir sy eie voete.

6 In die oortreding van 'n bose

mens lê daar 'n valstrik,

maar 'n regverdige juig en is bly.

7 'n Regverdige is bedag

op die regte van armes;

'n goddelose verstaan nie

sulke kennis nie.

8 Spotters blaas oproer aan in 'n stad,

maar wyses bring toorn tot bedaring.

9 As 'n wyse mens betrokke raak

in 'n hofsaak met 'n sot,

is die sot senuweeagtig

en giggel sonder ophou.

10 Mense wat bloed vergiet,

haat 'n onberispelike mens;

maar opregtes,

hulle is begaan oor sy lewe.

11 'n Dwaas gee vrye teuels

aan al sy gevoelens,

maar 'n wyse bedwing

sy gevoelens uiteindelik.

12 'n Heerser wat luister na leuentaal –

almal wat in sy diens is, is goddeloos.

13 Die arme en onderdrukker

het dít gemeen:

Die Here gee lig aan albei se oë.

14 'n Koning wat armes billik oordeel –

sy troon sal vir altyd standhou.

15 'n Lat en teregwysing gee wysheid;

maar 'n jong seun aan homself

oorgelaat,

steek sy moeder in die skande.

16 Wanneer goddeloses meer word,

neem oortredings toe;

maar regverdiges sal hulle val beleef.

17 Straf jou seun,

dan sal hy jou rus gee;

hy sal aan jou lewe genot verskaf.

18 Wanneer daar geen profetiese

visioen is nie,

raak 'n volk bandeloos;

maar wanneer hulle die wet nakom,

is hulle gelukkig.

19 Deur woorde alleen laat 'n slaaf

hom nie bestraf nie;

al verstaan hy dit,

hy reageer nie daarop nie.

20 Het jy al iemand gesien

wat oorhaastig is met sy woorde?

Daar is meer hoop vir 'n dwaas

as vir hom.

21 Bederf iemand sy slaaf van jongs af,

sal hy later opstandig wees.

22 'n Opvlieënde mens

sit 'n stryery aan die gang,

en 'n heethoof het baie oortredings.

23 Die verwaandheid van 'n mens

sal hom verneder;

maar hy wat nederig is,

sal eer ontvang.

24 Wie met 'n dief buit deel,

haat sy eie lewe;

hy hoor die vervloeking,

maar maak tog niks bekend nie.

25 Die vrees vir mense

word 'n valstrik;

maar wie op die Here vertrou,

word beskerm.

26 Baie mense soek guns

by 'n heerser,

maar 'n mens se reg

kom van die Here.

27 'n Oneerlike mens

is afstootlik vir regverdiges;

maar wie opreg is in sy optrede,

is afstootlik vir 'n goddelose.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help