Job 37 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Ja, hieroor bewe my hart,

klop dit in my keel.

2Luister goed na die gerammel

van sy stem;

die dreuning wat uit sy mond kom.

3Oral onder die hemelruim laat Hy dit vry,

ook sy weerlig oor die uithoeke van die aarde.

4 Daarna brul sy stem;

Hy laat dit dreun

met sy luisterryke stem.

Hy hou die weerligstrale nie terug

wanneer sy stem gehoor word nie;

5 God laat dit wonderbaarlik dreun met sy stem,

Hy doen groot dinge,

en ons kan dit nie deurdink nie.

6 Ja, aan die sneeu

gee Hy die opdrag,

‘Val op die aarde!’

ook aan die stortreën,

die stortbuie wat sy krag toon.

7Die hand van elke mens verseël Hy,

sodat alle mense sy handewerk

kan leer ken.

8 Wilde diere gaan in hulle

skuilplekke in,

in hulle lêplekke bly hulle.

9 Uit die kamer agter die horison

kom stormwinde;

drywende winde bring die koue.

10 Die asem van God maak ys;

die uitgestrekte waters vries vas,

asof gegiet.

11Ja, Hy belaai die wolke

met 'n oorvloed vog;

die wolkbank versprei sy weerlig.

12Die wolke beweeg oral rond,

gaan heen en weer

volgens sy beskikking,

om op die oppervlakte van die aarde

alles te doen wat Hy beveel.

13 Of dit nou is om te straf,

of tot voordeel van sy grond,

of om liefde te bewys,

Hy laat hulle die doel bereik.

14“Luister hierna Job!

Staan stil en gee aandag

aan God se wonders.

15Hy laat die weerlig

in sy wolkbank flits.

Begryp jy dit wanneer God

vir hulle reëls neerlê?

16 Begryp jy iets van die wegdryf

van wolke –

wonderwerke van Een

met volmaakte kennis?

17Jy, wie se klere te warm is

wanneer die aarde stil raak

uit die suide,

18 kan jy saam met Hom

'n wolkemassa plet,

so solied soos 'n spieël

van gegote koper?

19“Maak aan ons bekend

wat ons vir Hom moet sê!

Ons kan nie die saak uiteensit nie,

weens die duisternis.

20Sal dit aan Hom vertel word

dat ek praat;

of sê iemand,

‘Dit moet aan God meegedeel word’?

21“Maar nou –

mens sien nie weerlig,

dit wat helder in die

wolkemassa was nie.

Die wind het verbygekom

en dit opgeruim.

22 Uit 'n goue noorde kom Hy;

by God is die majesteit ontsagwekkend.

23 Die Almagtige –

ons kan Hom nie bereik nie,

Hy wat verhewe is in krag.

Die reg en volle geregtigheid

sal Hy nooit geweld aandoen nie.

24Hierom koester mense ontsag vir Hom:

Hy gee nie voorkeur aan enige

van die wyses van hart nie. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help