Spreuke 31 - Die Bybel 2020-vertaling

Uitsprake van Lemuel

1 Die woorde van Lemuel, 'n koning.

'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het.

2 Moenie, my seun,

ja, moenie, seun van my skoot,

ja, moenie, seun van my geloftes,

3 moenie aan vroue jou lewenskrag

bestee nie,

of jou paaie daarop rig om konings

uit te wis nie.

4 Dit is vir konings nie gepas nie,

Lemuel,

dit is vir konings nie gepas

om wyn te drink nie,

vir hooggeplaastes om te wees

waar daar sterk drank is nie.

5Anders drink hy, en vergeet

wat as voorskrifte neergelê is,

en skend hy die regte

van al die magteloses.

6 Gee sterk drank aan die een

wat ten gronde gaan,

en wyn aan mense

met verbitterde siele.

7Laat hy drink en sy armoede

vergeet,

sy swaarkry nie meer onthou nie.

8 Maak jou mond oop

vir die stemlose,

vir die regsaak van almal

wat wegkwyn.

9Maak jou mond oop,

oordeel regverdig,

en handhaaf die reg

van die magtelose en behoeftige.

Loflied oor 'n knap vrouא ALEF

10 'n Knap vrou, wie sal haar vind?

Ver bo korale is haar waarde.

ב BET

11Die hart van haar man

vertrou op haar,

en aan besittings sal dit hom

nie ontbreek nie.

ג GIMEL

12Sy doen goed aan hom

en nie kwaad nie,

al die dae van haar lewe.

ד DALET

13Sy soek wol en linne uit,

en werk met ywerige hande.

ה HE

14 Sy is soos die skepe

van 'n handelaar,

van ver af bring sy haar brood in.

ו WAW

15 Sy staan op terwyl dit nog nag is;

sy voorsien voedsel

vir haar huisgesin,

en porsies vir haar diensmeisies.

ז ZAJIN

16 Sy dink na oor 'n stuk grond

en koop dit;

met die verdienste van haar hande

plant sy 'n wingerd.

ח GET

17 Daadkragtig omgord sy

haar heupe;

sy steek haar hande uit haar moue.

ט TET

18 Sy merk dat sy goeie wins maak;

snags gaan haar lamp nie dood nie.

י JOD

19 Sy steek haar hande uit

na die spinstok,

en haar handpalms

hou die spoel vas.

כ KAF

20 Haar handpalms strek sy uit

na magteloses;

haar hande steek sy uit

na behoeftiges.

ל LAMED

21 Sy is nie bekommerd

oor haar huisgesin

wanneer dit sneeu nie,

want haar hele gesin is geklee

in karmosynrooi weefstof.

מ MEM

22Sy maak vir haar dekens;

haar bokleed is van linne

en purperrooi wol.

נ NUN

23 Haar man is bekend

in die stadspoorte

wanneer hy saam met

die oudstes van die land sit.

ס SAMEK

24 Sy maak klere van linne

en verkoop dit;

gordels lewer sy aan die handelaars.

ע AJIN

25 Krag en luister is haar bokleed;

sy lag onbesorg oor die toekoms.

פ PE

26 Haar mond maak sy oop

met wysheid,

en liefdevolle onderrig

is op haar tong.

צ TSADE

27 Sy hou haar oog op die werk

in haar huis;

brood van luiheid eet sy nie.

ק KOF

28Haar kinders tree na vore

en noem haar gelukkig;

haar man, hy besing haar lof:

ר RESJ

29 “Baie vroue het hulle knap gedra,

maar jy, jy oortref hulle almal.”

שׁ SJIN

30 Sjarme is bedrieglik

en skoonheid is nietig;

'n vrou wat vir die Here ontsag het,

sy moet geprys word.

ת TAW

31 Gee aan haar 'n deel

van die vrug van haar hande;

mag hulle haar in die stadspoorte

vir haar dade prys!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help