Job 24 - Die Bybel 2020-vertaling

1“Waarom word vaste tye

nie opsy gesit

deur die Almagtige nie,

en waarom sien dié wat Hom ken,

nooit sy dae nie?

2 Mense verskuif grense,

hulle buit troppe vee en laat dit wei.

3 Hulle jaag die donkie

van vaderlose kinders weg,

en neem die bees van 'n weduwee as pand.

4 Hulle druk behoeftiges van die pad af;

saam skuil magteloses van die land.

5Kyk, soos wildedonkies in die woestyn

trek hulle uit vir hulle

daaglikse werk –

op soek na iets te ete.

Die Araba voorsien kos

vir hulle en hulle kinders.

6In die veld maak hulle voer bymekaar;

in die wingerde van goddeloses

maak hulle die naoes bymekaar.

7 Halfkaal bring hulle

die nag deur, sonder 'n bokleed,

met geen bedekking teen die koue nie.

8Hulle is deurnat van die reën in die berge,

en staan styf teen 'n rots aangedruk,

sonder skuilplek.

9'n Vaderlose kind word

van die bors weggeskeur;

wat aan die magtelose is,

word as pand geneem.

10Halfkaal loop hulle rond,

sonder bokleed;

honger, dra hulle gerwe.

11Tussen goddeloses se terrasmure

pars hulle olywe;

hulle trap parskuipe,

terwyl hulle dors ly.

12 In die stad kreun sterwendes,

die kele van gewondes roep om hulp;

maar God slaan nie ag

op die ongerymdheid nie.

13“ Daar is dié wat in opstand is teen die Lig;

hulle erken nie sy weë nie,

hulle is nie tuis op sy paaie nie.

14 Teen ligdag

staan die moordenaar op;

hy maak magteloses en behoeftiges

dood,

en snags is hy soos 'n dief.

15 Die egbreker hou die skemer

in die oog en sê,

‘Geen oog sal my sien nie’;

en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig.

16Hulle breek in die donker by huise in.

Bedags sluit hulle hulleself toe,

hulle ken die lig nie.

17Ja, vir hulle almal saam

is stikdonkerte soos die môrelig;

hulle is immers vertroud

met die verskrikkinge

van 'n stikdonker nag.

18“ Mag hulle vinnig wegdryf op die water!

Mag hulle erfdeel in die land

in 'n vervloeking gebruik word;

mag hulle nie in die rigting

van die wingerde gaan nie.

19 Droë grond en hitte

raap sneeuwater weg,

net soos die •doderyk

hulle wat gesondig het.

20Mag die moederskoot hulle vergeet;

mag die maaiers hulle soet vind;

mag hulle nie meer onthou word nie.

Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word –

21hulle wat 'n onvrugbare

sonder kinders kaal stroop,

aan 'n weduwee niks goeds doen nie.

22God sal die magtiges wegsleep deur sy krag.

Al staan hulle op,

is hulle lewens nie seker nie.

23Hy gee aan hulle veiligheid,

en daarop steun hulle;

maar sy oë hou hulle paaie dop.

24Vir 'n kort rukkie

verhef hulle hulleself,

maar dan is hulle nie meer daar nie.

Hulle sink neer soos alle dinge,

en word bymekaargemaak;

soos die hoogste koringaar

word hulle afgesny.

25As dit nie so is nie,

wie sal my tot leuenaar maak,

en my woorde as niksseggend afmaak?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help