Jesaja 49 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesieë oor Jerusalem en Sion

1Luister na my, eilande,

gee aandag, afgeleë nasies!

Die Here het my reeds geroep

toe ek in die moederskoot was;

Hy het reeds my naam genoem

toe ek in my moeder se liggaam was.

2 Hy het my mond

soos 'n skerp swaard gemaak,

in die skaduwee van sy hand

het Hy my weggesteek.

Hy het my 'n geslypte pyl gemaak,

in sy pylkoker het Hy my versteek.

3 Hy het vir my gesê:

“Jy is my dienskneg, Israel,

deur wie Ek my heerlikheid toon.”

4 Ek het egter gedink:

Tevergeefs het ek my

moeg gemaak.

Verniet, vrugteloos het ek

my kragte ingespan.

En tog, die beslissing oor my

lê by die Here,

my beloning is by my God.

5Maar nou, die Here het gepraat

– Hy wat my in die moederskoot

al gevorm het as 'n dienskneg

vir Hom –

sodat ek Jakob na Hom

kan terugbring,

sodat Israel vir Hom

byeengebring kan word.

In die oë van die Here word ek geëer;

my God het my krag geword.

6Hy het gesê: “Dit is nie genoeg

dat jy vir My 'n dienskneg is

om die stamme van Jakob op te rig nie,

om dié wat bewaar gebly het van Israel,

te laat terugkeer nie.

Ek gee jou as 'n lig vir nasies,

sodat my heil sal strek tot aan

die uiteindes van die aarde. ”

7So sê die Here, die losser

van Israel, sy Heilige,

aan die sielsveragte,

aan hom wat afstootlik is vir nasies,

aan die dienaar van heersers:

“Konings sal dit sien en opstaan,

ja, vorste,

en hulle sal diep neerbuig –

ter wille van die Here,

Hy wat getrou is,

die Heilige van Israel,

wat jou gekies het.”

8 So sê die Here:

“In 'n tyd van welwillendheid

antwoord Ek jou;

op die dag van verlossing

help Ek jou.

Ek sal jou beskerm,

Ek gee jou as 'n verbond aan die volk

om die land op te bou,

om van verlate erfgrond

weer 'n erfdeel te maak,

9om vir gevangenes te sê,

‘Gaan uit!’

en vir hulle wat in die donker is,

‘Kom te voorskyn!’

Langs die paaie sal hulle wei,

op al die kaal hoogtes

sal hulle weiding wees.

10 Hulle sal nie honger

of dors word nie,

die dor woestynwind en son

sal hulle nie tref nie.

Ja, hulle ontfermer sal hulle lei,

langs waterbronne

sal Hy hulle begelei.

11“ Ek sal al my berge

in 'n pad verander,

en my grootpaaie sal opgevul wees.

12 Kyk, hierdie mense kom van ver af;

kyk, sommige kom uit die noorde

en weste,

en ander kom uit die gebied

by Aswan. ”

13 Jubel, hemel, en juig, aarde!

Breek uit in jubelkrete, berge!

Want die Here het sy volk getroos,

Hom oor sy magteloses ontferm.

14“ Sion het gesê,

‘Die Here het my verlaat,

my Heer het my vergeet.’

15Kan 'n vrou haar suigeling vergeet,

haar nie ontferm

oor die seun van haar

moederskoot nie?

Selfs al sou hulle vergeet,

Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.

16 Kyk, op twee handpalms

het Ek jou ingegrif;

jou stadsmure is steeds voor My.

17Jou kinders kom gou.

Hulle wat jou afgebreek het,

'n puinhoop van jou gemaak het,

hulle trek uit jou uit.

18 Kyk oral rond en sien:

Hulle almal kom byeen,

hulle kom na jou toe.

So seker as wat Ek leef,”

is die uitspraak van die Here,

“jy sal hulle almal dra soos juwele,

soos 'n bruid sal jy hulle omhang.

19 Oor jou puinhope,

jou verwoeste plekke,

jou vernielde land

lê Ek 'n eed af:

Jy gaan nou te klein wees

vir al die inwoners;

en hulle wat jou verslind het,

sal ver weg wees.

20 Die kinders waarvan jy beroof is,

sal weer, terwyl jy dit hoor, sê,

‘Die plek is te beknop vir my,

maak vir my ruimte,

sodat ek hier kan woon!’

21 Jy sal in jou hart sê:

Wie het hulle vir my

in die wêreld gebring

terwyl ek kinderloos

en onvrugbaar was,

'n balling en 'n gevangene?

Hierdie kinders –

wie het hulle grootgemaak?

Kyk, ek het alleen oorgebly;

waar was hulle dan?”

22 So sê my Heer, die Here:

“Kyk, Ek sal na die nasies

my hand ophef,

na die volke my banier omhoog hou.

Hulle sal jou seuns bring

in die vou van die kleed,

en jou dogters op die skouer dra.

23 Konings sal jou voogde wees,

en hulle prinsesse jou pleegmoeders.

Gesig na die grond,

sal hulle diep voor jou neerbuig;

hulle sal selfs die stof van jou voete lek.

Dan sal jy besef dat Ek die Here is.

Wie op My wag,

sal nie beskaamd staan nie. ”

24 “Sal krygsgevangenes weggeneem word

van 'n held,

of gevangenes vrykom

van 'n geweldenaar? ”

25 Maar, so sê die Here:

“Selfs gevangenes sal van 'n held

weggeneem word,

en krygsgevangenes sal vrykom

van 'n geweldenaar.

Teen hom wat met jou

die stryd aanknoop,

sal Ek self die stryd aanknoop,

en jou kinders –

Ek self sal hulle verlos.

26 Ek sal hulle wat jou verdruk,

hulle eie vlees laat eet.

Hulle sal dronk word van hulle eie bloed,

asof dit soetwyn is.

Alle mense sal besef

dat dit Ek, die Here, is

wat jou verlos,

jou losser, die Magtige van Jakob.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help