Nehemia 9 - Die Bybel 2020-vertaling

Boetedoening

1Op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die Israeliete byeengekom, terwyl hulle vas in rouklere, en met grond op hulle koppe.

2 Die nageslag van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders. Hulle het gestaan en belydenis gedoen van hulle sondes en die sondeskuld van hulle voorouers.

3Hulle het op hulle plekke bly staan en het vir 'n kwart van die dag uit die •boekrol met die Wet van die Here hulle God gelees, en vir 'n kwart van die dag het hulle belydenis gedoen, en telkens voor die Here hulle God in aanbidding gebuig.

4Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en met harde stemme na die Here hulle God om hulp geroep.

5Die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê:

“Staan op! Prys die Here julle God

van ewigheid af en vir ewig!

Laat hulle u heerlike Naam prys

wat bo elke seënspreuk

en loflied verhewe is.

6U alleen is die Here;

dit is U wat die hemelruim,

die hoogste hemele, gemaak het

en al sy hemelliggame,

die aarde en alles daarop,

die see en alles daarin.

U hou dit alles aan die lewe;

en die hemelliggame –

voor U buig hulle in aanbidding.

7“U is die Here,

die God wat vir Abram gekies het,

hom uit Ur van die Galdeërs gelei het,

vir hom die naam Abraham gegee het.

8 U het sy hart getrou teenoor U bevind

en met hom die verbond gesluit

om aan hom te gee die land

van die Kanaäniete, die Hetiete,

die Amoriete en Feresiete,

die Jebusiete en Girgasiete,

om dit aan sy nageslag te gee.

U het u woord gestand gedoen,

want U is regverdig.

9“ U het die ellende van ons voorouers

in Egipte raakgesien,

hulle noodkreet by die Rietsee

het U gehoor.

10 U het tekens en wonders gedoen

by die farao,

by al sy dienaars

en die hele volk van sy land,

want U het geweet dat hulle

vermetel optree teen u volk;

U het vir U 'n naam gemaak,

soos dit vandag nog is.

11“ Die see het U voor hulle

oopgekloof,

hulle het dwarsdeur die see getrek

op droë grond.

Hulle agtervolgers het U

in die dieptes gewerp,

soos 'n klip in die magtige waters.

12 Met 'n wolkkolom

het U hulle bedags gelei,

met 'n vuurkolom snags,

om vir hulle die pad te verlig

waarop hulle moes gaan.

13“ Op die berg Sinai het U neergedaal,

met hulle uit die hemel gepraat.

U het vir hulle gepaste beslissings gegee –

betroubare wette,

goeie voorskrifte en gebooie.

14U heilige Sabbat het U aan hulle

bekend gestel;

gebooie, vaste voorskrifte en 'n wet

het U hulle opgelê

by monde van Moses, u dienskneg.

15“Brood uit die hemel

het U aan hulle gegee

vir hulle honger;

water uit 'n rots het U vir hulle

laat ontspring vir hulle dors.

U het vir hulle gesê om in te gaan,

die land in besit te neem,

die land waaroor U u hand

opgehef het

om dit aan hulle te gee.

16Maar hulle, ons voorouers,

was vermetel;

hulle het hulle nekke styf gemaak;

hulle was nie gehoorsaam

aan u gebooie nie.

17Hulle het geweier om te luister;

hulle het nie u wonderdade onthou

wat U aan hulle gedoen het nie.

Hulle het hulle nekke styf gemaak

en was vasbeslote om terug te keer

na hulle slawerny in Egipte.

Maar U is 'n God wat vergewe,

U is genadig en barmhartig,

geduldig, vol troue liefde;

U het hulle nie verlaat nie.

18Selfs toe hulle 'n gegote kalf

gemaak en gesê het,

‘Dit is jou God wat jou

uit Egipte laat optrek het,’

en hulle hulle skuldig gemaak het

aan ernstige godslastering,

19 het U, in u groot ontferming,

hulle nie in die woestyn

agtergelaat nie.

Die wolkkolom,

om hulle op die pad te lei,

het bedags nie van hulle gewyk nie,

en die vuurkolom,

om vir hulle die pad te verlig

waarop hulle moes gaan,

ook nie snags nie.

20U goeie Gees het U gegee

om aan hulle insig te gee;

u manna het U nie van hulle monde

weerhou nie;

en water het U vir hulle gegee

om hulle dors te les.

21Veertig jaar lank het U hulle

onderhou in die woestyn;

hulle het geen gebrek gely nie;

hulle klere het nie verslyt nie,

en hulle voete het nie geswel nie.

22“ U het koninkryke en volke

aan hulle oorgelewer,

die grondgebied stuk vir stuk

onder hulle verdeel.

Hulle het die land van Sihon

in besit geneem,

ook die land van die koning van Gesbon

en die land van Og, koning van Basan.

23 Hulle kinders het U so talryk

gemaak soos die sterre

aan die hemelruim.

U het hulle gebring na die land

wat U aan hulle voorouers

beloof het om daar in te gaan,

om dit in besit te neem.

24 Die kinders het die land

binnegegaan,

dit in besit geneem.

U het die inwoners van die land,

die Kanaäniete,

voor hulle die knie laat buig.

U het hulle in hulle hand gegee,

sowel hulle konings as die volke

van die land,

om met hulle te doen

net wat hulle wou.

25 Hulle het versterkte stede

en vrugbare grond verower.

Hulle het huise, vol van alles

wat goed is, in besit geneem,

ook uitgekapte opgaarputte,

wingerde, olyfboorde

en talryke vrugtebome.

Hulle het geëet,

versadig en vet geword;

hulle kon hulle verlustig

in u groot goedheid.

26“Maar hulle was opstandig,

het teen U in opstand gekom.

Hulle het die rug op u wet gedraai.

U profete, wat hulle tereggewys het

om hulle na U terug te bring,

het hulle vermoor.

Hulle het hulle skuldig gemaak

aan ernstige godslastering.

27 U het hulle oorgegee in die hand

van hulle teenstanders,

en dié het hulle in die noute gebring.

In hulle tyd van nood

het hulle na U om hulp geroep,

U self het uit die hemel gehoor.

In u groot ontferming

het U aan hulle verlossers gegee,

en dié het hulle verlos uit die hand

van hulle teenstanders.

28Maar net toe daar vir hulle

rus gekom het,

het hulle weer gedoen

wat sleg is in u oë.

U het hulle in die hand

van hulle vyande gelaat,

en dié het oor hulle geheers.

Hulle het weer na U om hulp geroep,

U self het uit die hemel gehoor

en hulle in u groot ontferming

vele kere uitgered.

29U het hulle gewaarsku,

om hulle na u wet terug te bring.

Maar hulle was vermetel,

hulle het nie na u gebooie geluister nie,

en teen u bepalings het hulle gesondig,

teen dit wat 'n mens moet doen,

sodat hy daardeur kan leef.

Hulle skouers het onversetlik gebly,

hulle nekke styf,

hulle het nie geluister nie.

30“ Baie jare lank was U geduldig

met hulle,

het U hulle gewaarsku deur u Gees

by monde van u profete,

maar hulle het nie gehoor gegee nie.

U het hulle oorgegee in die hand

van die volke van ander lande.

31In u groot ontferming het U hulle

egter nie heeltemal vernietig nie;

U het hulle nie in die steek gelaat nie.

Ja, U is 'n genadige en barmhartige God.

32“ Daarom, ons God, groot,

magtige en ontsagwekkende God,

U wat bly by die verbond en u troue liefde,

laat dit tog nie gering wees voor U nie,

al die swaarkry wat ons ervaar het –

ons konings en leiers,

ons priesters en profete,

ons voorouers en u hele volk –

vanaf die dae van die konings

van Assirië tot vandag toe.

33 U was regverdig in alles

wat oor ons gekom het,

ja, U het in trou opgetree –

ons was skuldig.

34Ons konings en leiers,

ons priesters en voorouers

het u wet nie uitgevoer nie.

Hulle het nie ag geslaan

op u gebooie en bepalings

waarmee U hulle gewaarsku het nie.

35Hulle het, met hulle eie koninkryk,

te midde van u groot goedheid

wat U aan hulle geskenk het,

en in die wye en vrugbare land

wat U vir hulle aangebied het,

U nie gedien nie;

hulle het nie weggedraai

van hulle bose dade nie.

36“ Kyk, ons is vandag slawe;

die grond wat U aan ons voorouers

gegee het om die vrugte

en die goeie daarvan te geniet –

kyk, ons is slawe daarop.

37Die opbrengs daarvan word meer

vir die konings wat U oor ons

gestel het –

en dit as gevolg van ons sondes.

Oor ons liggame heers hulle,

ook oor ons vee, soos hulle wil.

Ons verkeer in groot nood.”

Hernuwing van die verbond

38 “Op grond van dit alles gaan ons nou 'n bindende ooreenkoms sluit en dit op skrif stel, en daarop die seël plaas met die name van ons leiers, ons Leviete en ons priesters.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help