Job 27 - Die Bybel 2020-vertaling

1Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê:

2“ So waar as wat God leef,

Hy wat my regsaak ter syde gestel het,

die Almagtige, wat my

met 'n verbitterde siel gelaat het,

3 ja, solank as wat my asem nog in my is,

die lewensasem wat God gee,

nog in my neus is –

4my lippe sal geen onreg spreek nie,

en my tong geen bedrog kwytraak nie.

5Ek sal julle nooit gelyk gee nie!

Totdat ek te sterwe kom,

sal ek nie van my

onberispelike optrede afsien nie.

6 Aan my onskuld hou ek vas,

ek sal dit nie laat los nie;

my gewete pla my nie

oor enige van my lewensdae nie.

7“ Mag my vyand as die skuldige daar staan,

die een wat my teenstaan, as die boosdoener;

8 want watter hoop het die godlose

as God sy lewe kortknip, dit opeis?

9 Sal God sy hulpkrete hoor

as benoudheid hom oorval?

10 Of sal hy vreugde vind by die Almagtige?

Sal hy God enige tyd kan aanroep?

11Ek sal julle onderrig oor God se hand;

wat die Almagtige in gedagte het,

sal ek nie verberg nie.

12Kyk, julle almal het dit self gesien;

waarom hou julle dan aan

met hierdie nuttelose gepraat?

13 Dit is die erfdeel wat

'n goddelose mens van God kry;

dit is die erfenis van geweldenaars

wat hulle van die Almagtige ontvang:

14 As sy seuns vermeerder,

is hulle vir die swaard bestem;

sy nakomelinge sal nie

versadig word met brood nie.

15 Dié onder hulle wat vrykom,

word deur die dood begrawe;

hulle weduwees sal nie huil nie.

16 Al hoop hy silwer op soos stof,

en stapel hy klere op soos hope klei –

17 hy stapel wel op,

maar 'n regverdige sal dit dra,

en die silwer sal deur 'n onskuldige

verdeel word.

18 Sy huis is gebou

soos dié van 'n mot,

soos 'n takskerm wat 'n wag

opgerig het.

19Hy gaan skatryk lê,

maar hy sal dit nie weer kan doen nie;

hy hou sy oë oop,

maar hy is nie meer daar nie.

20 Soos vloedwaters

oorval verskrikkinge hom;

snags voer 'n stormwind hom mee;

21die oostewind lig hom op,

en daar gaan hy!

Dit voer hom weg uit sy woonplek,

22genadeloos gooi dit hom neer;

halsoorkop vlug hy

vir die geweld daarvan.

23Bo hom klap die wind

spottend hande,

en sis vir hom, uit sy woonplek.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help