Miga 6 - Die Bybel 2020-vertaling

Veroordeling van ongeregtigheid

1Julle moet hoor wat die Here sê:

“Staan op, lê 'n klag voor die berge,

en laat die heuwels jou stem hoor.

2 Luister, berge, na die aanklag

van die Here,

luister, onwrikbare fondamente

van die aarde!

Ja, die Here lê 'n klag teen sy volk;

Hy het 'n regsaak met Israel,

3‘My volk, wat het Ek

aan jou gedoen

en hoe het Ek jou vermoei?

Antwoord My!

4Ek het jou immers laat optrek

uit Egipteland,

uit die plek van slawerny

het Ek jou losgekoop.

Ek het Moses, Aäron en Mirjam

voor jou uit gestuur.

5My volk, onthou tog wat Balak,

die koning van Moab beplan het,

en wat Bileam, die seun van Beor,

hom geantwoord het.

Onthou wat gebeur het

van Sittim tot by Gilgal,

sodat jy die regverdige dade

van die Here kan erken.’ ”

6 “Waarmee sal ek die Here

tegemoetgaan,

my neerbuig

voor die verhewe God?

Sal ek Hom tegemoetgaan

met •brandoffers,

met jaaroudkalwers?

7Sal die Here genoeë neem

met duisende ramme,

met tienduisende strome olyfolie?

Moet ek my eersgeborene gee

vir my oortreding,

die vrug van my liggaam

vir my eie sonde?”

8 Hy het aan jou, mens,

bekend gemaak wat goed is:

Wat anders eis die Here van jou

as om net te doen wat reg is,

om troue liefde te bewys

en om nederig die pad

saam met jou God te loop?

Straf vir onreg

9Die stem van die Here

roep tot die stad

(dit is verstandig om vir u Naam

ontsag te hê):

“Luister na die straf

en wie dit bepaal het.

10 Is daar steeds in die huis

van die goddelose skatte

wat deur onreg verkry is

en 'n verkleinde efa,

wat vervloek is?

11Sal Ek 'n vals weegskaal

en 'n sak met vals gewigte oorsien?

12Die stad se rykes is vol geweld

en die inwoners praat leuens;

hulle tonge is die ene bedrog

in hulle monde.

13Ek sal dan nou ook begin

om jou te straf,

om jou te verwoes

oor jou sondes.

14Jy sal eet,

maar nie versadig word nie.

Hy sal jou binne-in die stad verneder.

Jy sal mense verskuif,

maar nie na veiligheid bring nie,

en wie jy wel beveilig,

sal Ek aan die swaard oorgee.

15 Jy sal saai, maar nie oes nie;

jy sal olywe pars,

maar jouself nie met olie

invryf nie;

jy sal druiwe trap,

maar nie •nuwe wyn drink nie.

16“Jy het die wette van Omri

onderhou

en alles gedoen wat die huis

van Agab gedoen het;

julle het hulle raad gevolg.

Daarom sal Ek jou

'n skrikbeeld maak

en die inwoners van die stad

die rede vir 'n gefluit.

Julle sal my volk se vernedering

moet dra. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help