Spreuke 5 - Die Bybel 2020-vertaling

Waarskuwing teen 'n slegte vrou

1 My seun, op my wysheid

moet jy ag slaan,

vir my verstandigheid

moet jy jou ore spits,

2om sodoende goeie oordeel

te kan bewaar,

en op kennis,

dat jou lippe daarby hou.

3 Want die lippe van 'n vreemde

vrou drup van heuning,

en gladder as olie is haar mond.

4 Maar uiteindelik is sy so bitter

soos wildeals,

so skerp

soos 'n tweesnydende swaard.

5Haar voete gaan af na die dood,

op die •doderyk

stuur haar voetstappe af.

6Die pad van die lewe –

sy hou dit nie in die oog nie.

Haar paaie is onbestendig,

maar sy besef dit nie.

7Daarom, seuns, luister na my,

en moenie afwyk van die woorde

uit my mond nie.

8 Hou jou pad ver van haar af!

Moenie eers naby haar huis se deur

kom nie;

9anders gee jy jou bloeityd

aan andere,

jou beste jare aan 'n hartelose;

10anders eet vreemdes hulle

versadig aan jou vermoë,

en beland dit wat jy

met inspanning verdien het,

in die huis van 'n buitelander.

11Uiteindelik sal jy kreun,

wanneer jou vlees en jou

liggaam daarmee heen is.

12 Jy sal sê: “Hoe het ek

vermaning gehaat,

hoe het my hart

teregwysing versmaai!

13Ek het nie geluister na die stem

van my leermeesters nie,

na hulle wat my onderrig het,

my oor nie gedraai nie.

14 So byna was ek uitgelewer

aan elke onheil,

midde-in die byeenkoms

van die volksvergadering. ”

15 Drink water uit jou eie opgaarput,

en lopende water uit jou eie bron.

16Moet jou fonteine straataf spoel,

op die dorpspleine watervore word?

17Hulle is vir jou alleen bedoel,

nie vir •vreemdelinge by jou nie.

18 Mag jou waterbron geseënd wees;

verheug jou oor die vrou van jou jeug

19– 'n bekoorlike rooitakbokkie,

'n grasieuse klipbokooitjie.

Haar borste, mag hulle jou

altyd bevredig;

mag jy deur haar liefkosings

voortdurend bedwelmd wees.

20 Waarom sou jy jou laat bedwelm,

my seun, deur 'n vreemde,

die boesem van 'n uitlander

omhels?

21 Voor die oë van die Here

is die weë van 'n man immers

oop en bloot,

en al sy paaie hou Hy in die oog.

22 Die goddelose –

sy eie sondeskuld vang hom,

en in die strikke van sy sonde

word hy vasgeknel.

23Hy, hy sterf weens 'n gebrek

aan vermaning,

en deur die omvang van sy sotheid,

verdwaal hy.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help