Spreuke 7 - Die Bybel 2020-vertaling

Vermyding van owerspeliges

1 My seun, neem my woorde

ter harte;

en my opdragte,

hou dit veilig by jou.

2Kom my opdragte na,

dan sal jy leef;

ja, koester my onderrig

soos die appel van jou oog.

3 Bind dit aan jou vingers,

skryf dit op die tafel van jou hart.

4Sê vir wysheid: “Jy is my suster!”

En noem insig bloedfamilie,

5 sodat dit jou beskerm

teen 'n vreemde vrou,

teen 'n uitlander

met haar vleitaal.

6Want deur die venster van my huis,

deur my latwerk, het ek afgekyk;

7 en ek sien toe

daar by die onkundiges,

ja, ek merk toe onder die seuns

'n jong man sonder verstand,

8wat die stegie by haar hoek

oorsteek,

wat op pad na haar huis stap

9teen skemeraand,

toe die nag en donker

begin toesak.

10 Kyk, toe is daar 'n vrou

wat hom tegemoetgaan,

met die drag van 'n prostituut,

en met 'n listige hart.

11Sy is altyd luidrugtig en koppig.

In haar huis is haar voete nie tuis nie;

12sy is nou op straat,

dan weer op die dorpspleine,

en op elke straathoek

is sy op die loer.

13Sy gryp hom en soen hom;

met 'n onbeskaamde gesig

sê sy vir hom:

14“ Daar is •maaltydoffers by my;

vandag het ek my geloftes betaal.

15Daarom het ek uitgegaan

om jou te ontmoet;

ek was op die uitkyk vir jou,

en ek het jou gekry.

16Met dekens het ek my slaapbank

opgemaak,

met geborduurde linne uit Egipte.

17Ek het my slaapplek besprinkel

met mirre, adelhout en kaneel.

18Kom, laat ons ons versadig drink

aan die liefdespel tot die môre toe,

laat ons swelg in die liefdesgenot.

19Want my man is nie tuis nie;

hy het op reis gegaan, ver weg.

20Hy het die sak met geld

met hom saamgeneem;

teen die tyd van volmaan

sal hy eers huis toe kom.”

21Sy verlei hom met haar stortvloed

oortuigende woorde,

met haar gladde mond

haal sy hom oor.

22Hy loop dadelik agter haar aan;

soos 'n bees na die slagplek

gaan hy in,

met die huppel van 'n rooitakbok

op pad na 'n vangstrik

23– totdat 'n pyl sy lewer deurboor –

soos 'n voël hom haas na 'n net;

maar hy weet nie

dit gaan sy lewe kos nie.

24Daarom, seuns, luister na my,

en slaan ag op die woorde

uit my mond.

25Laat jou hart nie afdraai

na haar weë nie;

moenie op haar paaie ronddwaal nie.

26Ja, baie gesneuweldes

het sy laat val,

en talryk is al haar slagoffers.

27Paaie na die •doderyk is haar huis;

hulle lei af na die binnekamers

van die dood.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help