Spreuke 28 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n Goddelose vlug sonder

dat iemand hom agtervolg,

maar regverdiges is vol vertroue,

soos 'n jong leeu.

2 Wanneer 'n land oortree,

is daar baie •aanvoerders,

maar deur die toedoen van iemand

met insig en kennis

sal dit wat reg is, voortduur.

3 'n Man wat arm is en armes uitbuit,

is soos reën wat verspoel –

dan is daar geen brood nie.

4 Dié wat die wet verontagsaam,

prys goddeloses,

maar dié wat die wet nakom,

staan hulle teë.

5 Slegte mense verstaan nie

wat reg is nie,

maar hulle wat die Here soek,

verstaan alles.

6 'n Arme wat onberispelik leef,

is beter as 'n vals persoon

wat op twee paaie loop

terwyl hy ryk is.

7 Wie hou by die wet,

is 'n seun met insig;

wie egter met roekeloses meng,

steek sy vader in die skande.

8 Wie sy rykdom vermeerder

deur rente en woekerrente –

hy maak dit net bymekaar

vir iemand wat hom

oor armes ontferm.

9 Wie sy oor wegdraai,

sodat hy nie na die wet

hoef te luister nie –

selfs sy gebed is afstootlik.

10 Hy wat opregtes laat afdwaal

op 'n verkeerde pad,

sal self in sy vanggat val;

maar hulle wat onberispelik is,

sal die goeie in besit neem.

11 'n Ryk man is wys in sy eie oë,

maar 'n arme met insig

sien deur hom.

12 Wanneer regverdiges jubel,

is die roem groot;

maar wanneer goddeloses oorneem,

kruip die mense weg.

13 Wie sy oortredings bedek,

sal nie sukses behaal nie;

maar hy wat dit bely en dit laat vaar,

ervaar ontferming.

14 Gelukkig is 'n mens

wat voortdurend

ontsag koester vir God!

Maar wie sy hart verhard,

stort in die ellende.

15 'n Leeu wat grom,

en 'n beer wat aangestorm kom,

so is 'n goddelose wat heers

oor 'n arm volk.

16'n •Leier wat 'n groot

uitbuiter is,

het 'n gebrek aan insig;

hulle wat egter 'n weersin het

in onregverdige wins,

sal lank bly leef.

17 'n Mens belas met die bloed

van 'n ander,

sal moet vlug, tot die dood toe –

mense moet hom nie ondersteun nie.

18 Wie onberispelik leef,

ontvang hulp;

maar wie twee krom paaie volg,

sal op een tot 'n val kom.

19 Wie sy grond bewerk,

eet hom versadig aan brood;

maar wie nietighede najaag,

sal hom versadig eet aan armoede.

20 'n Betroubare man

ervaar baie seëninge;

maar wie vinnig ryk wil word,

sal nie ongestraf bly nie.

21 Om partydig te wees,

is nie goed nie;

vir 'n stukkie brood

kan 'n man oortree.

22 'n Gierigaard is oorywerig

om ryk te word,

en hy weet nie dat gebrek

vir hom voorlê nie.

23 Wie 'n mens teregwys,

ervaar daarna goedgesindheid,

meer as hy wat vlei met die tong.

24 Wie sy vader en moeder beroof

en sê,

“Dit is geen oortreding nie”,

is die bondgenoot van 'n verwoester.

25 'n Gulsige persoon

sit 'n stryery aan die gang;

maar wie op die Here vertrou, gedy.

26 Wie op sy eie hart vertrou,

hy is 'n dwaas;

maar wie met wysheid leef,

hy kom vry.

27 Wie aan 'n arme gee,

ly geen gebrek nie;

maar wie sy oë sluit,

word baie vervloek.

28 Wanneer goddeloses oorneem,

soek mense skuiling;

maar wanneer goddeloses omkom,

word die regverdiges meer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help