Job 23 - Die Bybel 2020-vertaling

Job se antwoord op Elifas se derde betoog

1Job het hierop gereageer en gesê:

2“Ook vandag is my klag rebels;

sy hand is swaar,

ten spyte van my gesug.

3 Ag, as ek maar geweet het

waar ek Hom kon vind,

as ek maar tot by

sy vaste woonplek kon kom!

4 Ek sou die saak voor Hom uiteensit;

my mond sou ek vul met pleitredes.

5Ek sou kennis neem van die woorde

waarmee Hy teen my getuig;

ek sou begryp wat Hy vir my sê.

6 Sou Hy met groot krag

'n regstryd teen my voer?

Nee, maar Hy sal aan my

aandag gee.

7'n Opregte sou daar

met Hom redeneer;

en ek sou vir altyd ontkom

aan my regter.

8 Kyk, gaan ek oos, is Hy nie daar nie,

en wes, dan gewaar ek Hom nie.

9In die noorde, terwyl Hy werk,

merk ek Hom nie op nie;

verhul Hy Hom in die suide,

sien ek Hom nie raak nie.

10 Ja, Hy ken die pad waarop ek gaan;

as Hy my toets –

soos goud sal ek daar uitkom.

11 In sy spoor het my voete gebly;

by sy pad het ek gehou,

en nie afgedraai nie.

12Die opdrag van sy lippe –

daaraan het ek my nie onttrek nie;

in die vou van my kleed

het ek die woorde uit sy mond

in bewaring gehou.

13“Maar Hy is uniek –

wie kan Hom teengaan?

Wat Hy graag wil doen,

dit voer Hy uit.

14Ja, Hy sal wat vir my bestem is, volbring.

Hy het baie dinge soos hierdie in gedagte.

15 Daarom staan ek verbysterd voor Hom;

as ek daaroor nadink, vrees ek Hom.

16 Dit is God wat my swak van hart maak;

dit is die Almagtige wat my verbysterd laat.

17 Ja, ek word nie stilgemaak

deur die donker nie,

deur die feit dat ek self

deur diepe duisternis omhul word nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help