Esegiël 28 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesie teen die koning van Tirus

1Die woord van die Here het tot my gekom:

2“Mensekind, sê vir die leier van Tirus, ‘So sê my Heer, die Here:

“Omdat jou hart hoogmoedig

geraak het, het jy gesê,

‘Ek is 'n god;

in die tuiste van die gode

woon ek in die hart van die seë.’

Maar jy is net 'n mens,

nie 'n god nie.

Jy stel jou insig gelyk

aan die insig van gode!

3 Kyk, jy is slimmer as Danel!

Geen geheim is vir jou duister nie!

4Deur jou wysheid en jou insig

het jy vir jou vermoë verwerf,

goud en silwer in jou skatkamers weggesit.

5Deur jou buitengewone handelsvernuf

het jy jou vermoë vergroot.

Maar jou hart het hoogmoedig

geraak oor jou rykdom.

6Daarom,” so sê my Heer, die Here,

“omdat jy jou insig gelykstel

aan die insig van gode,

7 daarom, kyk, Ek bring vreemdes na jou,

die gewelddadigstes van die nasies.

Hulle sal die swaard trek

teen die skoonheid

wat jou wysheid gebring het;

hulle sal jou skitterende prag ontwy.

8Na die grafkuil sal hulle jou laat afdaal;

jy sal die dood van 'n deurboorde

sterf in die hart van die seë.

9 Sal jy steeds sê, ‘Ek is 'n god’,

in die teenwoordigheid van hom

wat jou doodmaak,

en as jy – 'n mens, nie 'n god nie –

in die hande is van hulle

wat jou deurboor?

10 Jy sal die dood

van 'n onbesnedene sterf

aan die hand van vreemdes,

want Ek het gepraat.”

Dit is die uitspraak

van my Heer, die Here.’ ”

11Die woord van die Here het tot my gekom:

12“Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom, ‘So sê my Heer, die Here:

“Jy was die toonbeeld

van voortreflikheid,

vol wysheid, volmaak in skoonheid.

13 In Eden, die tuin van God,

daar was jy.

Jy was bedek met alle soorte

edelstene: •karneool, •topaas,

•akwamaryn, •chrisoliet,

•oniks, •jaspis, •lasuursteen,

•malagiet en •smarag.

Van goud was die insetsels en graverings

aan jou bedekking.

Die dag toe jy geskep is,

was dit gereed

14by 'n glansende gerub

met vlerke wat beskutting bied.

Ek het jou daar geplaas;

op die heilige berg van gode was jy;

tussen klippe van vuur

het jy rondgestap.

15Onberispelik was jy in jou optrede

vanaf die dag dat jy geskep is,

totdat onreg in jou ontdek is.

16Deur jou uitgebreide handel

is jou binneste met geweld gevul;

jy het gesondig.

Ek het jou as 'n onheilige uitgewerp,

weg van die godeberg af.

'n Gerub met vlerke wat beskut,

het jou tussen die klippe

van vuur uit verdryf.

17Jou hart het hoogmoedig geword

oor jou skoonheid;

jy het jou wysheid nutteloos gemaak

oor jou skitterende prag.

Op die grond het Ek jou neergegooi;

voor konings het Ek so met jou gemaak

dat hulle hulle in jou kan verlustig.

18 Oor jou baie sondeskuld

weens jou onregmatige handelspraktyke,

het jy jou heiligdomme ontheilig.

Ek het vuur uit jou binneste laat kom;

dit het jou verteer.

Ek het jou soos as op die grond gemaak

voor die oë van almal wat na jou kyk.

19Almal onder die volke

wat jou geken het,

was verslae oor jou.

Jy het 'n verskrikking geword,

jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”

Profesie teen Sidon

20Die woord van die Here het tot my gekom:

21“ Mensekind, draai jou gesig na Sidon, profeteer teen haar

22 en sê, ‘So sê my Heer, die Here:

“Dit is Ek teen jou, Sidon!

Ek sal roem verwerf in jou midde.

Hulle sal besef dat Ek die Here is

wanneer Ek oordele in haar voltrek.

Ek sal Myself in haar

as die Heilige betoon.

23Ek sal 'n epidemie in haar loslaat;

daar sal bloed in haar strate wees;

die deurboordes sal binne-in haar lê

deur die swaard wat aan alle kante

teen haar gerig is.

Hulle sal besef dat Ek die Here is.

24“ ‘ “Daar sal nie meer vir die huis van Israel duwweltjies wees wat skerp is, en dorings wat steek van die kant van almal om hulle, almal wat hulle minag nie, want hulle sal besef dat Ek, die Heer, die Here is.”

25“ ‘So sê my Heer, die Here: “Wanneer Ek die huis van Israel bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is, sal Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. Israel sal woon op die grond wat Ek aan my dienskneg Jakob gegee het.

26 Hulle sal veilig daarop woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek oordele voltrek oor almal wat hulle minag aan alle kante. Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is.” ’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help