Job 32 - Die Bybel 2020-vertaling

Elihu se betoog

1Die drie manne het toe opgehou om op Job te reageer, want in sy eie oë was hy regverdig.

2 Maar Elihu, seun van Barakel, uit Bus, uit die grootfamilie van Ram, het kwaad geword. Hy was kwaad vir Job omdat hy homself verontskuldig het teenoor God.

3Elihu was kwaad vir sy drie vriende omdat hulle nie antwoorde kon vind nie, maar Job tog skuldig verklaar het.

4Elihu het sy woorde teen Job teruggehou, omdat hulle ouer as hy was.

5Toe Elihu egter sien dat daar geen antwoord kom uit die mond van die drie manne nie, het hy kwaad geword.

6Elihu, seun van Barakel, uit Bus, het toe gereageer en gesê:

“Ek is jonk, en julle is oud;

daarom was ek beskroomd en bang

om my kennis met julle te deel.

7 Ek het gedink, die jare moet praat,

die baie lewensjare

moet wysheid openbaar.

8 Maar dit is die gees in sterflinge

en die asem van die Almagtige

wat aan hulle insig gee.

9 Dit is nie noodwendig dié

wat ryp in jare is wat wys is,

en oumense wat insig het

in wat reg is nie.

10Daarom sê ek, ‘Luister na my!

Ook ek wil my kennis deel.’

11“Kyk, ek het op julle woorde gewag;

ek het geluister na julle insig,

terwyl julle na woorde soek.

12My aandag was net by julle.

Maar kyk,

niemand kon Job teregwys nie,

niemand onder julle

kon op sy woorde antwoord nie.

13Julle moet nou net nie sê,

‘Ons het wysheid teëgekom.

Net God kan van hom ontslae raak,

nie 'n mens nie.’

14Hy het nie argumente

teen my aangevoer nie;

met julle woorde sal ek

hom nie antwoord nie.

15“Hulle is skoon verskrik,

hulle antwoord nie meer nie;

woorde ontwyk hulle.

16Sou ek dan wag

as hulle nie praat nie,

as hulle maar net daar staan,

nie meer antwoord nie?

17Ook ek sal op my beurt 'n antwoord gee,

ook ek sal my kennis deel.

18Want ek is vol woorde,

die gees in my binneste dwing my.

19 Kyk, my binneste is

soos wanneer wyn

nie oopgemaak word nie;

soos nuwe leersakke wil dit oopbars.

20Ek moet praat en verligting kry,

my mond oopmaak en reageer.

21Ek mag vir niemand

partydig wees nie,

en ek sal mense nie vlei nie,

22want ek weet nie hoe om te vlei nie;

my Maker sou my gou verwyder.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help