Spreuke 4 - Die Bybel 2020-vertaling

Wysheid as beskerming

1 Seuns, luister na die vermaning

van 'n vader,

en slaan ag daarop

om insig te leer ken.

2Want dit is goeie onderrig

wat ek julle gee;

my onderwysing –

moet dit nie verontagsaam nie.

3Toe ek 'n seun was by my vader,

onervare, en die enigste

voor my moeder,

4 het hy my geleer en vir my gesê:

“Jou hart moet my woorde vashou.

Kom my gebooie na, dan sal jy leef.

5 Verwerf wysheid, verwerf insig,

vergeet dit nie;

wyk nie af van die woorde

uit my mond nie.

6 Moet haar, die wysheid,

nie verontagsaam nie;

dan sal sy jou beskerm.

Wees lief vir haar,

dan sal sy jou bewaak.

7 Die begin van wysheid is:

Verwerf wysheid,

verwerf insig met alles wat jy besit!

8 Stel haar hoog op prys,

dan sal sy jou verhoog;

sy sal aan jou eer gee

as jy haar omarm.

9Sy sal op jou kop

'n swierige krans sit,

'n sierlike kroon aan jou skenk.

10“ Luister, my seun,

en aanvaar my woorde

sodat jou lewensjare baie kan wees.

11 Op die pad van wysheid

sal ek jou begelei,

ek sal jou laat loop op reguit paaie.

12Wanneer jy loop,

sal jou voetstappe

nie belemmer word nie;

en as jy hardloop,

sal jy nie struikel nie.

13 Hou vas aan vermaning,

moet dit nie laat vaar nie;

hou daarby, want dit is jou lewe.

14 Op die pad van goddeloses

moet jy nie kom nie;

en moenie die weg

van slegte mense betree nie.

15Vermy dit,

moet dit nie eers oorsteek nie,

draai weg daarvan

en gaan verby.

16 Want hulle kan nie slaap nie,

behalwe as hulle kwaad doen;

hulle slaap bly weg,

tensy hulle iemand tot 'n val bring.

17Ja, hulle eet brood

van goddeloosheid,

en wyn van geweld drink hulle.

18 Die pad van regverdiges

is soos die helder oggendlig –

dit verhelder geleidelik

tot die volle dag.

19 Die weg van goddeloses

is soos die donker –

hulle weet nie waaroor

hulle struikel nie.

20“ My seun, slaan ag

op my uitsprake;

spits jou ore vir my woorde.

21Laat hulle nie aan jou oë

ontglip nie;

bewaar hulle diep in jou hart.

22 Want dit is die lewe

vir hulle wat dit vind;

vir die hele liggaam

bring dit genesing.

23 Bewaak jou hart meer

as enigiets wat bewaar word,

want daaruit ontspring die lewe.

24 Bly weg van 'n mond

wat valsheid verkondig,

en slinkse lippe,

hou dit ver van jou.

25 Jou oë moet vorentoe kyk,

jou blik moet reg voor jou

gerig wees.

26 Hou die pad vir jou voet gelyk;

en al jou weë,

laat dit bestendig wees.

27Moenie regs of links afdraai nie,

hou jou voet weg van die kwaad.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help